Vier Wêreld-loodgieterdag, maar SA se krane dikwels kurkdroog

Wêreldloodgieterdag.

Terwyl Wêreldloodgieterdag op 11 Maart gevier word, sit derduisende Suid-Afrikaners sonder toegang tot water.

Dié dag word juis gebruik om erkenning te gee aan hoe pype mense met mekaar verbind en help om skoon drinkwater aan gemeenskappe te lewer.

Met die plaaslike gebrek aan watertoevoer, is dit belangrik om in hierdie vakmanskap te studeer, sê Gerrie Botha, die opleidingshoof by die Suid-Afrikaanse Loodgieter-instituut.

“Die loodgieter versorg die gesondheid van die nasie deur veilige installasies wat aan plaaslike standaarde voldoen.”

Juis omdat loodgieters so ’n belangrike rol in die versorging van die mensdom se gesondheid speel, behoort loodgieters dienooreenkomstig vergoed en geag te word, sê Botha.

“Soos in enige ander beroep is die korrekte inligting, kundigheid en professionele gedrag belangrik. Dit verseker ook die die beste moontlik installasie vir die gebruiker. Geen regdenkende mens sal sy kinders na ’n persoon neem wat homself ’n dokter noem sonder voldoende kwalifikasie nie. Dit geld ook vir loodgieters.

“Niemand kan klaarkom sonder skoon, veilige drinkwater en doeltreffende rioolverwydering nie. Siektes sal die mensdom en alle ander vorme van lewe uitwis!”

Jonathan Erasmus, mediakoördineerder van WaterCAN, ’n water-gemeenskapsnetwerk, beaam dit.

Hy sê wanneer hierdie infrastruktuur nie werk nie, of in duie stort soos in Johannesburg weens swak instandhouding, is daar ’n verlies aan menswaardigheid. “WaterCAN glo dat sanitasie en skoon drinkwater van fundamentele waarde vir mense is. Dit verminder die blootstelling aan waterverwante siektes, en só word kwesbare mense beskerm.”

Erasmus sê gemeenskappe speel ook ’n belangrike rol om te verseker dat waterstelsels bewaar word deur lekplekke dadelik aan te meld en te verhinder dat water vermors word. “Wanneer iemand probleme raaksien, moet hulle verantwoordelik gehou word om iets daaraan te doen,” sê hy.

WaterCAN het ’n gratis app wat mense kan help met watergehaltetoetsing. Die app, Map My Water, kan ook gebruik word om probleme aan te meld.

“Inwoners is gewoonlik die eerste mense wat lekkasies en rioolwater raaksien en diensonderbrekings ervaar. ’n Georganiseerde gemeenskap wat daagliks hierdie probleme monitor, verhinder dat dit geïgnoreer word.”

Ook vandag:

  • Die Paralimpiese Winterspele begin vandag in Italië. Dit duur tot 15 Maart. Altesame 665 atlete sal in kategorieë soos Alpynse-ski, veldski, tweekamp, yshokkie en sneeubord meeding.
  • Dit is nasionale Oreo-koekie-dag in Amerika. Die eerste koekie is vandag op 1912 in New York verkoop. Neem ’n foto van hoe jy jou Oreo in melk dompel en plaas dit op sosiale media met die hutsmerk #NationalOreoCookieDay.
  • Die kunstenaar Michelangelo is vandag in 1475 in ’n klein dorpie in Toskane gebore. Hy is op 18 Februarie 1564 in die ouderdom van 88 in Rome dood.
  • Die patent vir (en die woord) aspirien is vandag in 1899 by die Keiserlike patentkantoor in Berlyn geregistreer. Vandag is dit een van die mees gebruikte pynmedikasie.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie