Ses persone – waarvan vyf van een familie – is in ’n botsing tussen twee voertuie op die R27 tussen Calvinia en Brandvlei in die Noord-Kaap oorlede.
Die kop-aan-kop-botsing, tussen ’n Volkswagen Polo en ’n Ford-bakkie, het Donderdag, 30 Julie, omstreeks 18:45 sowat 56 kilometer vanaf Calvinia op die Brandvlei-pad plaasgevind.
Die enigste insittende van die Ford-bakkie, die 27-jarige Beauron Tieties van Carnarvon, is noodlottig beseer en is op die toneel dood verklaar.
Ook al vyf insittendes van die Volkswagen Polo is in die botsing oorlede, sê kaptein Ivan Magerman, polisiewoordvoerder. Hulle was Chris, Regina, Rochelle en Ethlin Matthys van Keimoes, asook Rochelle se lewensmaat, Ettienne Cloete. Ethlin was ’n graad 3-leerder aan Keimoes Akademie.

In ’n huldeblyk aan Ethlin skryf die skool: “Ons innige meegevoel gaan uit na haar familie ná die tragiese motorongeluk waarin sy, haar mamma, pappa, ouma en oupa oorlede is.”
In ’n huldeblyk aan die Matthys-egpaar skryf ’n familielid: “Julle was ma en pa vir meer as julle eie bloed. ’n Toevlugsoord vir almal. Altyd daar, altyd gereed om te help en te gee.”

Na bewering was Tieties ná vyf weke waarin hy weg van die huis gewerk het, op pad terug na sy vrou, Marieta, en hul drie jong kinders. Volgens Marieta het hy haar om 17:40 met ’n video-oproep gekontak om te sê dat hy pas deur Brandvlei is en dat hy net voor 20:00 by die huis behoort te wees.
“My hart het geweet iets is fout toe ek ná agt nog niks van hom gehoor het nie,” skryf sy op ’n Facebook-plasing.
Die troosdiens vir die Matthys-familielede het Saterdag, 2 Augustus, plaasgevind en die gedenkdiens vind Donderdag, 6 Augustus, om 18:00 in die Alexander Steward Congregational-kerk in Keimoes plaas, terwyl die begrafnis Saterdag, 8 Augustus, plaasvind.
Die polisie-ondersoek oor die oorsaak van die botsing duur voort.
