Polisiebevelvoerder in soeklig oor lede hom glo rondry

Die dorp Stanford net buite Hermanus.

Die bevelvoerder van ’n polisiekantoor naby Hermanus word daarvan beskuldig dat hy polisielede laat op en af ry het vir hom en daardeur die vervoer van DNS-uitslae vertraag het. Boonop het dit die lede ure lank uit die werk gehou.

Die polisie se distrikskantoor in die Overberg ondersoek moontlike magmisbruik deur kapt. Sithembele Xuba, bevelvoerder van die Stanford-polisiekantoor buite Hermanus.

Na bewering het Xuba die lede opdrag gegee om hom meer as ’n maand lank van Hermanus na die Paarl-polisiekollege en terug te vervoer. Dit was glo sodat hy naweke by sy familie in Stanford kon deurbring terwyl hy ’n verpligte kursus tussen 11 Januarie en 27 Februarie by dié kollege bygewoon het.

’n Polisielid in die Overberg-distrik sê op voorwaarde van anonimiteit aan Die Papier dat polisielede by die polisiekantoor baie ontevrede was met die vervoerreëling.

“Hierdie is beamptes wat aan diens was wat Vrydae minstens vyf ure van hul skof moes afstaan om hom (Xuba) in die Paarl te gaan haal en dan weer Sondae terug te neem. Gevolglik was daar in daardie tyd minder polisie en een minder voertuig in die dorp.”

Kol. Andrè Traut, ’n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die distrikskommissaris in die Overberg is nie bewus van die bewerings nie. “Dit kan dus in die stadium nie gestaaf word nie. Polisielede word aangemoedig om die voorgeskrewe interne prosesse te volg en gebruik te maak van die gevestigde interne kanale om hul bekommernisse formeel aan te meld. Dit sal die bestuur in staat stel om die saak behoorlik te evalueer en, waar nodig, ’n interne ondersoek van stapel te stuur,” sê Traut.

Xuba kon nie telefonies vir kommentaar bereik word nie.

Soek na ’n verskoning?

Die polisiebron beweer verder dat Xuba glo ook opdrag gegee het dat DNS-uitslae slegs op Vrydae by die polisie se laboratorium in Plattekloof afgehaal mag word.

Dan sou beamptes rede hê om hom te gaan haal omdat hulle dan in die omgewing is. Daar het toe al klagtes van die howe gekom weens die staat wat moes wag op DNS-uitslae. “Dit is baie duidelik dat hy [Xuba] sy mag misbruik.”

Enkele afgetrede polisielede het by navraag aan Die Papier gesê die reëling tydens die duur van sulke kursusse was nog altyd dat polisielede self verantwoordelik is vir persoonlike reise.

Die opposisie sê

Nicholas Gotsell, ’n DA-LP, het bevestig dat ’n ondersoek wel intussen deur die polisie se distrikskantoor in die Overberg van stapel gestuur is.

Gotsell het Xuba se beweerde opdragte ten sterkste veroordeel. “Polisiekantore, veral klein kantore soos Stanford, word toenemend meer deur begrotings- en hulpbrontekorte gekniehalter. Dit is jammer en kommerwekkend dat diegene wat veronderstel is om hierdie stasies te lei – en in wie se hande ons gemeenskappe se veiligheid rus – hul eie belange bo dié van hul gemeenskap sou stel.”

Hy sê die DA sal dringend parlementêre vrae vra om vas te stel of die stasiebevelvoerder wel die nodige magtiging het soos aangevoer is.

“Indien wel, sal ons wil weet of die magtiging gegee is met inagneming van die volle konteks van die stasie se hulpbronne en begroting. In Stanford is daar slegs ’n paar lede op sigbare diens in ’n groot, landelike gebied.

“Om lede te gebied om hul bevelvoerder weekliks, op ’n Vrydag en Sondag, te vervoer en dus vir tussen vyf tot ses ure uit operasionele diens te haal, blyk nie bevorderlik te wees vir sigbare polisiëring wanneer daar sekerlik ander maniere is om hom by sy kursus te kry nie.”

Xuba se agtergrond

Xuba is in Desember 2024 aangestel as bevelvoerder van die Stanford-polisie. Hy was voor dit ’n ondersoekbeampte verbonde aan die Swellendam-polisie.

Die Papier het ’n brief onder oë gehad wat toon Xuba is een van 177 polisielede in die Wes-Kaap wat in Desember 2024 tot die rang van adjudant-offisier en kolonel bevorder is. Die Papier kon met navraag nie vasstel tot watter rang – adjudant-offisier of kolonel – Xuba bevorder is nie.

Die bevorderingsbrief is deur lt.genl. Thembisile Patekile, die Wes-Kaapse polisiehoof, en genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, onderteken.

Die polisiebron sê die verpligte kursus by die Paarl-polisiekollege vorm deel van Xuba se bevordering. As deel van Xuba se bevordering, is hy ook verplig om minstens twee jaar as bevelvoerder te dien.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie