Tshwane se waterkrisis is opnuut weer in die media nadat Stad Tshwane se adjunkburgemeester, Eugene Modise, na bewering van miljoene rande se watertenk-korrupsie beskuldig word.
Midde-in die drama het DA se burgemeesterkandidaat vir Tshwane, Cilliers Brink, gister die plek besoek waar die Hartebeesfontein-afvalbehandelingsaanleg in Ekuhuleni glo sy uitvloeisel in die Rietvleirivier stort.
“Volgens ons waarnemings bly die swak gehalte van die uitvloeisel wat in die rivier gestort word, ’n groot oorsaak van die besoedeling van die Rietvleidam in Pretoria,” het Brink in ’n verklaring geskryf.
“Sedert verlede jaar beteken die besoedeling van Rietvleidam dat die Tshwane-metro nie meer water uit hierdie volop natuurlike bron onttrek kan word vir suiwering en verspreiding nie,” skryf hy.

Die korrupsie-klag oor watertenkers wat die DA teen die ANC se Modise op sosiale media aangeblaas het, word volgens ActionSA heel verkeerdelik gedoen.
“Watertenkers is nodig omdat die vorige regerings, insluitend dié van die DA, vir jare versuim het om skoon, veilige drinkwater aan gemeenskappe regoor die stad te voorsien,” lui die verklaring.
“Dit het lagwekkend geword dat Cilliers Brink se burgemeestersveldtog in wese ’n oefening in vingerwys geword het oor sake wat juis die gevolg is van sy eie mislukkings en dié van sy party in hul swak bestuur van die Stad Tshwane.”
Brink het die ondersoek na korrupsie verwelkom en glo dat enige misbruik deur die Tshwane-metro se regering blootgelê moet word.
Oor sy besoek aan die Rievleidam is Brink uitgesproke dat dié probleem ’n groot bron van kommer vir Tshwane behoort te wees. Hul span het met die uitvoerende hoof van Ekuhuleni Water Care-maatskappy (ERWAT), wat verantwoordelik is vir die afvalbehandelingsaanleg en die besoedeling van die Rietvleirivier, vergader.

“Tot ERWAT se krediet was hulle openhartig oor die biologiese oorlading by die aanleg en hul verantwoordelikheid om te help met die rehabilitasie van die Rietvleidam,” skryf Brink.
“Tshwane, aan die ander kant, was minder openhartig oor wat by Rietvlei aangaan. ANC-adjunkburgemeester Eugene Modise het beweer dat Rietvlei binne ’n paar maande herstel kan word.”
Dít, volgens Brink en sy span kenners, sal nie moontlik wees nie omdat die probleem “heelwat meer ingewikkeld” is as wat Modise voorhou.
