Suid-Afrika toon die meeste politieke wil van alle lande om tuberkulose (TB) – wat dodelik kan wees – uit te roei.
Só het dr. Lucica Ditiu, uitvoerende direkteur van die internasionale Stop TB-vennootskap, Dinsdag tydens die departement van gesondheid se Wêreldtuberkulosedag-verrigtinge in Caledon in die Wes-Kaap gesê.
Meer as 3 miljoen mense is vir TB getoets sedert die departement van gesondheid verlede jaar op Wêreld-TB-dag in KwaZulu-Natal sy Beëindig TB-veldtog van stapel gestuur het.
Met dié veldtog wil die regering jaarliks minstens 5 miljoen TB-toetse doen.
“Ons ervaring is dat daar ongelooflike politieke toewyding en leierskap in hierdie land is in die stryd teen TB. Ons sien dit nie in ander lande nie.
“Net omdat goeie vordering gemaak word, beteken egter nie ons moet op ons louere rus nie. Dit bly ’n dodelike siekte wat enigiemand kan opdoen. Daarom moet ons voortbou op ons vroeë opsporingsprogramme,” het Ditiu gesê.
Adjunkpresident Paul Mashatile het Dinsdag die amptelike Wêreldtuberkulosedag-rede namens die regering gelewer.
Hy het gesê sedert 2015 was daar ’n bestendige daling in TB-gevalle.
“Teen 2024 het ons ’n 61% afname in nuwe gevalle bereik. Behandelingsukses vir dwelmweerstandige TB is nou 79%.
“Die persentasie mense wat behandeling ontvang, het van 79% tot 74% gedaal. Dit is ’n oproep tot aksie. Ons moet die gaping vul en seker maak almal kry betyds mediese sorg.”
Die departement van gesondheid se jongste statistiek toon dat meer as 50 000 mense in 2024 aan TB dood is. Meer as 60 000 het daardie jaar ongediagnoseer met die siekte saamgeleef, maar dié syfer het intussen afgeneem weens opsporingsprogramme.
TB is ’n aansteeklike bakteriële infeksie wat hoofsaaklik veroorsaak word deur mycobacterium tuberculosis wat die longe aantas, maar ook ander organe kan besmet.
Dit versprei deur die lug wanneer ’n besmette persoon hoes of nies.
TB is behandelbaar en geneesbaar, maar kan dodelik wees as dit onbehandeld bly.
Tuks ontwikkel dié toetsel
Navorsers aan die Universiteit van Pretoria (UP) het in aanloop tot vanjaar se Wêreld-TB-dag ’n handtoestel ontwikkel wat hulle glo die tuberkulose(TB)-siftingproses sal herdefinieer en uiteindelik kan help om die TB-pandemie meer doeltreffend te beveg.
Dié toestel word MARTI genoem, en sal volgens die instelling “met baie hoë sekerheid kan aandui dat ’n persoon wat moontlik in gevaar is, nie TB het nie”.
“Die toestel pas in die palm van jou hand en benodig slegs ’n enkele druppel bloed, geen sputum, geen naalde, geen laboratorium,” sê Carl Baumeister, ’n navorser en programhoof van die UP-afwentelmaatskappy MARTI TB Diagnostics.

Volgens die instelling is ’n interne proeflopie onlangs voltooi om die akkuraatheid te bevestig van die toets, waarvan uitslae binne 30 minute beskikbaar is.
“Die resultate van dié proeflopie toon merkwaardige belofte ten opsigte van die presisie, sensitiwiteit en akkuraatheid van die diagnostiese toets.
“Dit kom naby aan die teikens wat die Wêreldgesondheidsorganisasie vir die ‘perfekte’ toets gestel het, wat MARTI ’n ideale siftings- en diagnostiese hulpmiddel maak,” sê die UP in ’n verklaring.
