Varsitybeker: Suide se stem stil in eindstryd vanjaar

Tuks se senter, Kobus Janse van Rensburg, sal Maandag aand nog ’n uithaler-vertoning vir sy span in die eindstryd op hul tuisveld wil lewer.
Tuks se senter, Kobus Janse van Rensburg, sal Maandag aand nog ’n uithaler-vertoning vir sy span in die eindstryd op hul tuisveld wil lewer. Foto: Sydney Seshibedi, Gallo Images.

Maandagaand tydens die eindstryd van die Varsitybeker sal dit slegs die tweede jaar in die 18 jaar van dié kompetisie wees dat daar nie ’n span van die Suide in die eindstryd speel nie.

Die vorige keer was in 2015 toe die Shimlas en die Arende in die eindstryd gespeel het.

Tuks gaan poog om hul sesde Varsitybeker-titel te lig wanneer hulle teen die Noordwes-Universiteit Arende (NWU) in die eindstryd te staan kom. Die eindstryd word in Pretoria beslis.

Die Arende het maklik met die Maties in Potchefstroom met 50-10 afgereken. Die manne van Potchefstroom het dié beker al twee keer gewen.

MJ Mostert van die NWU Arende.
MJ Mostert van die NWU Arende. Foto: Ashley Vlotman, Gallo Images.

Tuks het die Universiteit van Johannesburg (UJ) met die kous oor die kop oor die Jukskei teruggestuur ná ’n goeie sege van 53-34.

In Potchefstroom het die Arende van die begin af die oorhand gehad in die vasteskrums en Jason Oosthuizen, Jordan McLoughlin en Alethwa Buthelezi het voorlangs die fondament gelê vir die sewe drieë wat die tuisspan gedruk het.

Die linkervleuel, Logan Janeke, het twee keer agter die doellyn gaan kuier. Die Arende se flank, Ricardo Fourie, is as Speler van die Wedstryd aangewys.

In Pretoria, waar al die kaartjies voor die tyd uitverkoop is, het UJ alles in die stryd gewerp en met rustyd was sake gelykop. Die besoekers het vroeg in die tweede helfte die voortou geneem, danksy ’n drie van hul kaptein, Kamo Molefe.

Tuks het egter daarna die krane behoorlik oopgedraai en uiteindelik sewe drieë gedruk met die linkervleuel, Munashe Dukuswa, wat drie daarvan agter sy naam kon skryf.

Die tuisspan se skrumskakel, Akha Mjawule – wat as Speler van die Wedstryd aangewys is, en die losskakel, Divan du Toit, wat 16 punte met sy skopskoen bygedra het, het weer uitgestaan. Die drie geelkaarte wat vir UJ gedurende die wedstryd uitgedeel is, het verder tot hul ondergang gelei.

Ondersteuners kon tot 10 April stem vir die Speler van die Toernooi met Ezekiel Ngobeni van Maties, Thabang Mphafi van UJ en Jack Benade van Ikeys wat die kortlys gehaal het.

Wat die agterspelers van die toernooi betref, kon vir Divan du Toit van Tuks, Matthew Fortuin van die Arende of Jack Benade gestem word. Onder die voorspelers is dit Aden Da Costa van Ikeys, Ricardo Fourie van die Arende en Thabang Mpha­fi­.

Die wenners word by die eindstryd aangekondig.

In die halfeindronde van die Varsityskild-reeks het Wits ’n oortuigende oorwinning oor die Madibaz behaal om hul plek in die eindstryd teen die Walter Sisulu-Universiteit te bespreek wat met die Universiteit van Wes-Kaapland in die ander halfeind afgereken het. Wits het Vrydag, 10 April, oortuigend met 44-18 die eindstryd gewen.

Halfeindstryd

Maandag, 13 April

19:00 Tuks t. NWU (SS, 211)


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie