DA-federale kongres: Stem misluk om adjunkleier vir party te kies

Die DA het Saterdagoggend gestem om ’n adjunkleier-rol vir die DA te skep.
Die DA het Saterdagoggend gestem om ’n adjunkleier-rol vir die DA te skep. Foto: Jana Marx.

Die DA gaan steeds nie ’n adjunkleier hê nie.

Dis nadat ’n wysiging van die party se grondwet Saterdag by die federale kongres in Midrand nie met ’n tweederdemeerderheid geslaag het nie.

Dis die hoeveelste kongres waar daar hieroor gestem word – sonder sukses.

Net meer as 50% van afgevaardigdes het vir die voorstel gestem – ver onder die 66.7% wat ’n grondwetwysiging moet behaal om te slaag.

Die wysiging is deur Pogiso Mthimunye, die DA se adjunkvoorsitter in Gauteng, voorgestel.

Luidens die wysiging moes die adjunkleier die “vakuum” vul wanneer die federale leier besig is in die groter regering van nasionale eenheid. Die adjunkleier sou dan kon fokus op partysake, soos om “problematiese nasionale wetgewing” te beveg.

Die adjunkleier sou luidens die wysiging ook op die volgende kon fokus:

  • Om intensief met partystrukture te skakel om te verseker almal is op dieselfde bladsy en “gemobiliseer”.
  • Om regstreeks met kiesers oor die party se strategie en vordering in die nasionale regering te kommunikeer.
  • Om as ’n skakel tussen die parlementêre koukus, die partyleierskap, kiesers en die strukture op die grond op te tree. Dit sou onder die toesig van die federale leier geskied het.

Volgens die voorstel bestaan daar ’n baie werklike kans vir ’n DA-landspresident in die nabye toekoms. “(Dit) maak ’n sterk federale adjunkvooristter noodsaaklik”.

Dr. Annelie Lotriet, adjunkspeaker van die nasionale vergadering, het aan Die Papier verduidelik die federale voorsitter en die voorsitter van die federale raad kan die federale leier ondersteun, daarom dat baie afgevaardigdes dink die adjunkleiersrol is nie nodig nie.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie