Geordin Hill-Lewis is die DA se nuwe federale leier: Dis die ander leiers wat verkies is

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, is die DA se nuwe federale leier.
Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, is die DA se nuwe federale leier. Foto: Facebook.

Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, is Sondag by die DA se federale kongres in Midrand, Gauteng, as die party se nuwe federale leier aangewys.

Hill-Lewis het sy mededinger, Sibusiso Dyonase (Sedibeng-koukusleier) en die nuwe leierskap gelukgewens en gesê hy is opgewonde oor ’n nuwe generasionele verskuiwing in die DA.

“Ek aanvaar die verantwoordelikheid met nederigheid en ’n pligsbesef.”

Hill-Lewis het oudleier van die DA, Tony Leon, geloof en vertel hoe hy as 16-jarige seuntjie met ontsag op televisie gekyk het hoe Leon met oudpres. Thabo Mbeki debatvoer.

“Tony het die grondslag gelê vir die moderne DA en gewys dat opposisie saakmaak,” het Hill-Lewis gesê.

Hy het vertel hoe hy Helen Zille later ontmoet het. “Wat my bygeval het was Helen se vermoë om met mense te connect.”

Hill-Lewis het ook sy voorganger, John Steenhuisen, geloof vir die stabilisering van die party.

Hill-Lewis het gesê sy grootste prioriteit is nou om die DA te groei om die grootste party in die land te word. “Ons moet aanhou wys die DA regeer goed vir almal in Suid-Afrika,” het hy gesê en die armes uitgesonder.

“Integriteit in die staat maak saak en hoop vir die toekoms bestaan.”

Hy het gesê hy wil die vertroue wen van diegene wat nog nie vir die DA stem nie. “Ons moet meer teenwoordig wees in gemeenskappe – werklik teenwoordig wees.”

Die vraag is: Hoe kry jy mense om te identifiseer met jou party? Of om soveel vertroue in jou te hê dat hulle vir ’n oomblik hul stem vir jou sal gee? sê-vra dr. Piet Croucamp, politieke ontleder.

Die Papier het Croucamp gevra hoe Hill-Lewis moontlik kiesergetalle kan groei.

“Om te identifiseer met jou party is een ding, maar om jou te vertrou om die regte ding te doen, is iets heeltemal anders. Eerder as om te probeer om almal DA-lede te maak, maak van hulle mense wat jou vertrou. Want dan het jy die voordeel dat jy waarskynlik die volgende 500 000 of selfs 750 000 stemme kan kry.”

Hill-Lewis se politieke loopbaan het in die studentepolitiek aan die Universiteit van Kaapstad begin. Hier het hy die DA se eerste studentetak gestig en later studenteverkiesings op daardie kampus gewen.

Hy het ’n meestersgraad in finansies aan die Universiteit van Londen.

Hy is in 2011 op 24-jarige ouderdom as LP in die nasionale vergadering van die parlement verkies, wat hom toe die jongste LP sedert 1994 gemaak het.

Hill-Lewis was vir vyf jaar lank Helen Zille se stafhoof toe sy die DA-leier en Wes-Kaapse premier was. Hy het ook as die DA se woordvoerder oor finansies en woordvoerder oor handel en nywerheid gedien.

Ander uitslae is ook Sondag bekend gemaak

Die nuwe federale voorsitter is Solly Msimanga, DA-leier in Gauteng. Hy het dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, die aanvanklike gunsteling vir die rol, uitgestof.

Die drie federale adjunkvoorsitters is Solly Malatsi, minister van kommunikasie en tegnologie, Cilliers Brink, Tshwane-burgemeesterskandidaat en Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys.

Die nuwe voorsitter van die federale raad is Ashor Surapen, adjunkminister van finansies. Hy volg vir Helen Zille op.

Die drie adjunkvoorsitters van die federale raad is Carl Pophaim, burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings in die Stad Kaapstad, JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid in die Stad Kaapstad, en Thomas Walters, lid van die provinsiale wetgewer in die Wes-Kaap. Walters is herkies in die rol.

Die nuwe finansiële voorsitter is Mark Burke, DA-LP.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie