Suid-Afrika mag nie agter raak wat die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) betref nie, het Solly Malatsi, die minister van kommunikasie en digitale tegnologie, Sondag aan Die Papier gesê.
Malatsi woon die naweek die DA se federale kongres in Midrand, Gauteng, by.
Die departement van kommunikasie en digitale tegnologie het Vrydag sy KI-konsepwetgewing vir openbare kommentaar gepubliseer.
“(Ons) wil sekermaak ons reaksie op die aanneming van KI is een wat die beste waarde uit die samelewing haal en wat ook Suid-Afrikaners teen die onetiese gebruik van KI beskerm.
“Dis ook belangrik dat (die beleid) ons kulturele diversiteit weerspieël, veral waar dit gaan oor die gebruik van groot taalmodelle,” het Malatsi gesê.
Hoewel konsepwetgewing nog nie bindend is nie, gee dit ’n goeie aanduiding van hoe die staat KI-regulering en -implementering sien.
Volgens die konsepwetgewing, word KI beskou as ’n instrument wat ekonomiese groei en werkskepping bevorder.
Onderwys, gesondheid, landbou en openbare administrasie word as fokusareas vir KI-implementering beskou.
Die wetgewing beklemtoon ook dat enige KI-beleid in die Grondwet gegrond moet word, Suid-Afrika se sosio-ekonomiese omstandighede in ag moet neem, en ongelykheid en die sogenaamde digitale verdeeldheid aanspreek.
Die konsepwet stel ’n raamwerk voor wat die stigting van ’n nuwe nasionale KI-kommissie, ’n KI-etiekraad, ’n KI-reguleringsowerheid, ’n KI-ombudspersoon en ’n nasionale KI-veiligheidsinstituut daarstel.
Die publiek kan nou tot 10 Junie hierop kommentaar lewer.
