VRK: Bulls wen met ’n haarbreedte teen die Scarlets in Wallis

Handré Pollard duik oor vir sy drie teen die Scarlets.
Handré Pollard duik oor vir sy drie teen die Scarlets. Foto: Facebook.

Hoeveel keer tevore was dít nie al die geval nie, en hierdie keer was dit weer so: Bulls-losskakel Handré Pollard se skopskoen het die verskil gemaak en sy span se jongste Verenigde Rugbykampioenskap-oorwinning beklink.

Ja, Pollard se strafskop in die doodsnikke van die wedstryd was die deurslaggewende oomblik toe die Bulls die Scarlets 23-21 in Wallis geklop het. Sy skopskoen was egter deurlopend sekuur aan sy regtervoet gewees. Terwyl Scarlets-skopper Joe Hawkins al drie sy doelskoppe verbrou het, het Pollard 18 van sy span se 23 punte aangeteken, aangesien hy ook ’n drie gedruk het.

Hawkins het ses punte verkwansel deur skeef pale toe te korrel.

Die Scarlets is tans 15de op die puntelys, en gaan nie die topagt kan haal nie, al het hulle ’n enkele bonuspunt uit dié wedstryd gekry.

Die Bulls is egter nou in sewende plek en sal hulself diep in die topagt wil gaan anker. Wat hulle pad ietwat makliker maak, is dat hulle teen die Italiaanse klubspanne Zebre Parma en Benetton, onderskeidelik 16de en 13de op die puntelys, speel.

En dit boonop by Fort Loftus.

Die Ierse klubspan Leinster, huidige kampioene van die VRK, het op dieselfde tyd met 29-26 vasgeval teen Benetton, wat vir hulle ook net een punt by hul totaal op die puntelys gevoeg het.

Dus is die Stormers heel boaan die puntelys met 56 punte, bly die Lions in 3de plek met 53 punte en is die Bulls nou sewende met 49 punte.

Daar is slegs twee rondes oor voor die uitkloprondes 29 en 30 Mei plaasvind.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie