Waarskuwing oor gevaarlike branders aan KZN-kus uitgereik

Die weerdiens het ’n geelvlak 1-weerwaarskuwing vir kusgebiede in KwaZulu-Natal uitgereik. Foto: AFP
Die weerdiens het ’n geelvlak 1-weerwaarskuwing vir kusgebiede in KwaZulu-Natal uitgereik. Foto: AFP

Inwoners en besoekers aan die KwaZulu-Natalse kus is gemaan om uiters versigtig te wees nadat ’n vlak 1-weerswaarskuwing vir skadelike branders uitgereik is.

Volgens die eThekwini-munisipaliteit is die waarskuwing, wat deur die Suid-Afrikaanse weerdiens uitgereik is, van Maandag tot Woensdag om 23:59 geldig.

“’n Kombinasie van ’n kouefront en ’n sterk hoogdrukstelsel sal na verwagting golwe van tussen vier en vyf meter langs die KwaZulu-Natalse kus veroorsaak,” sê die munisipaliteit in ’n verklaring.

Die waarskuwing geld vir kusgebiede waar die toestande moontlik moeilike navigasie op see, tydelike ontwrigtings by klein hawens en skade aan kusinfrastruktuur kan veroorsaak.

Die munisipaliteit waarsku dat strandaktiwiteite ontwrig kan word en dat klein bote besonder kwesbaar is, met die risiko dat vaartuie water kan inneem of selfs omslaan.

“Die publiek word sterk aangeraai om uiterste versigtigheid aan die dag te lê en onnodige aktiwiteite op see en langs die kuslyn gedurende hierdie tydperk te vermy,” het die munisipaliteit gesê.

Strandgangers, hengelaars, branderplankryers en ander watergebruikers is versoek om waaksaam te bly en alle veiligheidsriglyne van owerhede te volg, terwyl operateurs van klein bote aangemoedig word om vaart uit te stel totdat toestande verbeter.

Die munisipaliteit sê nooddienste is op hoë gereedheidsgrondslag en monitor die situasie noukeurig in samewerking met relevante rolspelers.

“Ons doen ’n beroep op alle inwoners om hierdie waarskuwing ernstig op te neem en verantwoordelik op te tree om hul eie veiligheid en dié van ander te verseker.”

  • In noodgevalle kan die stad se rampbestuursentrum by 031 361 0000 gekontak word.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie