Beweerde tenderonreëlmatighede van tussen R100 000 en R180 000 by die Vereeniging-lughawe in Gauteng, wat onder die Sedibeng-disktrik val, is moontlik die rede hoekom dié lughawe hul lisensie kwyt is, beweer die VF+ en die DA.
Die partye beweer dat geld wat vir instandhouding goedgekeur is, onder meer om ’n heining op te rig en gesteelde aanloopbaanligte te vervang, nooit vir dié doel aangewend is nie.
BusinessTech sê ’n tender van R180 000 is in Julie verlede jaar vir opknapping goedgekeur. Die lughawe se lisensie is intussen deur die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (BLO) gekanselleer.
“Volgens regulasies moet lughawelisensies jaarliks hernu word, onderhewig aan streng ouditering en inspeksies. Versuim om aan hierdie vereistes te voldoen, kan tot boetes of selfs sluiting lei. In die geval van Vereeniging-lughawe was die gebrekkige omheining die hoofrede vir die stap,” lui die VF Plus-verklaring.
“Die BLO vereis ’n veilige heining en die huidige, stukkende omheining wat onbeheerde toegang tot die terrein moontlik maak en die brandstofplaas in gevaar stel, is ontoereikend.”
Sibusiso Dyonase, DA-raadslid, sê dit gaan verskeie gevolge vir die reeds sukkelende ekonomie in die Vaal-omgewing inhou. “Die raadsvoorsitter en die burgemeester moet nou verduidelik waarom meer as R100 000 toegeken was, maar geen opknapping plaasgevind het nie. Sedibeng verdien beter,” sê Dyonase in ’n verklaring.
