Sjef Vickie de Beer sê: Dís hoekom dermgesondheid so belangrik is

Sjef Vickie de Beer.
Sjef Vickie de Beer. Foto: Facebook.

Dermgesondheid is die grondliggende oorsaak van baie kwale en siektes, maar die meeste mense besef dit nie, verduidelik koskenner Vickie de Beer.

De Beer, destyds kosredakteur van Rooi Rose en ’n opgeleide sjef, se lewe het ingrypend verander toe haar agtjarige seun tipe 1-diabetes gediagnoseer is.

“Die dermwand dien as ’n belangrike versperring wat verhoed dat gifstowwe, skadelike bakterieë en patogene die limfstelsel en bloedstroom binnedring. Dit is van kardinale belang, aangesien hierdie stowwe chroniese ontsteking in die liggaam kan veroorsaak.

“Langdurige ontsteking kan op sy beurt weer bydra tot die ontwikkeling van ander skadelike toestande, soos outo-immuunsiektes.”

Die mikrobioom, die bakterieë, organismes, virusse en fungi wat in jou derms leef, speel ’n belangrike rol in baie van die liggaam se prosesse.

“Dit produseer vitamiene, help met vertering en ondersteun die immuunstelsel. Byna 70% van die immuunstelsel is in die derms geleë. Dermgesondheid beïnvloed selfs jou gemoed.” 

Dit is dus noodsaaklik om dié balans deur ’n gesonde dieet te handhaaf.

Vickie de Beer glo tuisgemaak is gesonder. 
Vickie de Beer glo tuisgemaak is gesonder. Foto: Verskaf.

Maar wat beskou sy as ’n gesonde “dermdieet”?

“Dit moet beslis dierlike proteïen insluit. Dit beskerm en herstel die dermwand. Veral kragsop – gemaak met vleisbene – is uitstekend, want dit bevat gelatien, glutamien en kollageen.

“Veselryke groente met inulien (nee, dis nie ’n tikfout nie) en ander prebiotiese vesels, saam met gefermenteerde kosse, help om die mikrobioom te voed en is ook noodsaaklik,” verduidelik sy.

LEES | Diabetes-diagnose lei tot kosrevolusie vir bekende koskenner Vickie de Beer

Ewe belangrik is gefermenteerde kosse, wat die diversiteit van die dermmikrobioom verhoog en inflammasie verminder.

Dit, sê De Beer, word gestaaf deur navorsing, soos ’n 10-week-dieetintervensiestudie aan die Stanford-universiteit in die VSA waar 36 volwassenes in twee groepe verdeel is.

Een groep het ’n dieet ryk aan gefermenteerde kosse gevolg, en die ander ’n hoëvesel-dieet,” verduidelik sy.

“Die groep wat daagliks 4-6 porsies gefermenteerde kosse ingeneem het – wat kefir, kimchi, kombucha en maaskaas ingesluit het – het ’n beduidende toename in algehele mikrobiese diversiteit getoon, asook ’n afname in 19 inflammatoriese proteïene in hul bloed.”


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie