Julius Malema, leier van die EFF, het Vrydag tydens die party se Werkersdagvieringe in Rustenburg geregtigheid vir die slagoffers van die Marikana-slagting van 2012 geëis, en gesê die families wag steeds op antwoorde en aanspreeklikheid.
Hy het beklemtoon dat die stryd van Marikana nog nie afgehandel is nie en dat die regstelsel volgens hom nie die werkers beskerm nie. “Die howe word gebruik om ons te veg,” het Malema gesê, en aangevoer dat “dieselfde instelling wat werkers geskiet het” nou die EFF in die howe teiken.
Hy het die staat daarvan beskuldig dat dit versuim het om die slagoffers se families te vergoed en die skuldiges aanspreeklik te hou, en in dieselfde asem die ontstaan van die EFF direk aan Marikana verbind.
“Die EFF is gevorm deur die bloed van die werkers van Marikana. Die party bestaan om die belange van werkers en armes te beskerm.
“Ons gaan voort om te veg vir die regte van werkers en die werkersklas regoor Suid-Afrika, Afrika en die diaspora,” het hy gesê.
Malema het die regering en die regstelsel gekritiseer en aangevoer dat werkers steeds onderdruk word, terwyl die politieke en ekonomiese elite beskerm word.
Volgens hom bly die ekonomiese ongelykheid en werksomstandighede in Suid-Afrika grootliks onveranderd sedert 2012.

Hy het ondersteuners aangemoedig om aan te hou veg vir ekonomiese geregtigheid en beter werksomstandighede.
In ’n duidelike politieke aanval het Malema pres. Cyril Ramaphosa gewaarsku: “Ons sê vir Ramaphosa, jou dag kom! Moet nooit dink mense het vergeet jy het gesê die werkers is kriminele nie.”
Die Marikana-slagting, waarin 34 stakende mynwerkers op 16 Augustus 2012 doodgeskiet is, bly een van die mees omstrede gebeure in Suid-Afrika se demokratiese geskiedenis.
