Twee rugbyspelers verbonde aan ’n plaaslike klub in Wellington het Maandag in dié dorp se landdroshof gehoor dat hulle nou vier aanklagte in die gesig staar wat verband hou met die beweerde verkragting van ’n damestudent in die oggendure van Sondag, 26 April.
Die twee spelers is onderskeidelik 23 en 28.
Die 23-jarige word onder plaaslikes beskryf as ’n belowende rugbyspeler wat aan die einde van verlede week by ’n semi-professionele klub in Limpopo sou aansluit.
LEES OOK | ‘Belowende’ Wellington-rugbyspeler en klubmaat toegesluit ná seksklag
Tydens die twee se inhegtenisneming op 27 April is hulle aanvanklik van verkragting aangekla. Die staat het Maandagoggend tydens die spelers se borgtogaansoek gesê die twee staar nou altesaam vier aanklagte in die gesig.
Die staatsaanklaer wou nie by navraag oor die aanklagte uitwei nie. Die media was ook toegang tot die klagstaat geweier.
Die klein hofsaal, wat skaars 20 mense kan akkommodeer, was gepak met die beskuldigdes en die beweerde slagoffer se familie. Daar was ook ’n aantal polisiebeamptes binne en buite die hof.
Die 23-jarige speler se ma was onder die familielede wat in trane uitgebars het toe hy die beskuldigdebank betree.
Die borgtogaansoek word Dinsdag voortgesit. Die staat het gesê omdat dit ’n bylae 6-aansoek is, staan hy borgtog teen.

Elton Rochert van Rochert Attorneys, wat die twee spelers verteenwoordig, het ná afloop van Maandag se verskyning aan die media gesê hy is ontkant betrap deur die nuwe aanklagte en het daarom vir die uitstel gevra.
Die Papier het vroeër berig dat die Wellington-rugbyklub se bestuur verkies het om nie oor die saak kommentaar te lewer nie.
’n Aantal ondersteuners van die klub het Maandag buite die hof saamgedrom.
Die slagoffer is glo ’n 21-jarige student aan die Wellington-kampus van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT).
Sy is van ’n dorp in die Suid-Kaap.
Billy Claasen van die Landelike en Plaaswerkerontwikkelingsorganisasie, sê dié organisasie sal die familie die nodige ondersteuning bied.
“Die slagoffer is nog getraumatiseer, maar sterk onder die omstandighede. Ons sal hierdie pad saam met haar en haar familie stap. Daar is heelwat groepe wat al met ons kontak gemaak het wat vir haar wil help om die trauma te verwerk.”
Die beskuldigdes se name word ingevolge die Strafproseswet weerhou weens die aard van die beskuldiging en sal eers bekend gemaak word sodra hulle pleit.
