Waarskuwing: Hierdie artikel bevat inligting wat sensitiewe lesers kan onstel.
Die ondersoekbeampte wat die verkragtingsaak van ’n 21-jarige Wellingtonse student deur twee plaaslike rugbyspelers ondersoek, het Vrydag aan die hof gesê aanvalle teen die slagoffer op sosiale media het tot verdere trauma gelei.
“Die twee spelers – wat gewild in hul gemeenskappe is – word opgehemel. Daar is meer ondersteuning vir hulle op sosiale media as vir die slagoffer.
“Selfs vroue het uitlatings teenoor die klaagster op sosiale media gemaak,” het a.o. Winston Pegram, verbonde aan die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (FCS) in die Paarl, aan die hof gesê.
Pegram het Vrydag die getuiebank ingeneem as deel van die beskuldigdes se borgtogaansoek en is deur die staatsaanklaer ondervra oor die slagoffer se weergawe van die gebeure in die vroeë oggendure van Sondag 26 April.
Twee rugbyspelers, onderskeidelik 23 en 28 jaar oud, word daarvan beskuldig dat hulle die student by haar woonstel verkrag het.
Hulle staar vier aanklagte van verkragting in die gesig.
LEES OOK | Wellington-rugbyspeler aan hof: ‘Dit was nie ons eerste keer saam’
Student beweer sy is só verkrag
Pegram het getuig dat die klaagster wel ’n saamrygeleentheid met die twee beskuldigdes vanaf ’n nagklub gekry het, soos die beskuldigdes die afgelope Dinsdag tydens hul borgtogaansoek getuig het.
“Toe hulle by haar woonstel kom om haar af te laai, het die beskuldigdes gevra om die badkamer te gebruik. Die badkamer is direk langs die klaagster se kamerdeur.
“Volgens die klaagster het sy, terwyl die beskuldigdes die badkamer gebruik het, in haar kamer ingegaan om haar foon te laai. Sy het haar deur oopgelos,” het Pegram getuig.
“Volgens haar het beskuldigde nommer een in haar kamer gekom. Sy was in ’n gebukkende posisie. Hy het haar broek afgetrek en haar van agter begin verkrag.
“Sy het later haar kop gedraai en gesien dat beskuldigde twee besig was om te masturbeer. In skok en ongeloof het sy vir beskuldigde een weggestoot en gevra wat hy dink hy doen.
“Beskuldigde twee het toe ook ingespring en haar begin verkrag,” het Pegram getuig.
Volgens Pegram is die student glo twee keer deur elk van die beskuldigdes verkrag.
Hy het getuig dat die beskuldigdes glo haar kop teen ’n kussing gedruk en haar mond toegehou het.
Volgens Pegram dui voorlopige bevindings daarop dat die twee sowat 45 minute in die woonstel deurgebring het.
Die beskuldigdes het Dinsdag getuig dat hulle slegs sowat 15 minute daar was en dat dit net beskuldigde een was wat konsensuele seks met die student gehad het.
Soos die beskuldigdes het Pegram ook getuig dat die klaagster ’n oproep van ’n manlike vriend ontvang het. Sy en die vriend sou glo daardie nag ontmoet.
Hy het aan die hof gesê hy is nog nie seker wie die slagoffer gebel het en wat die inhoud van die gesprek was nie.
Klaagster vertel glo medestudent van gebeure
Pegram het verder getuig dat die klaagster ná die oproep die beskuldigdes gevra het om die woonstel te verlaat. Sy het saam met hulle tot by die studentewoning se hek gestap.
Volgens Pegram wys beeldmateriaal hoe beskuldigde een haar by die hek omhels.
Daarna het sy glo huilend vir een van die ander damestudente by die verblyf vertel wat gebeur het. Die klaagster het ook haar familie ingelig en die saak is die Maandag by die Wellington-polisiekantoor aangemeld.
Só kry klaagster glo beskuldigde een se adres
Daar is Vrydag onthul dat die klaagster glo een van beskuldigde een se spanmaats per WhatsApp gekontak het om sy adres vir die saak te kry.
Die klaagster het nie gesê waarom sy die adres soek nie.
Die spanmaat, wie se naam in die hof genoem is, het luidens die boodskappe vir beskuldigde een gesê iemand soek sy adres vir ’n pakkie wat afgelewer moet word.
Die spanmaat het eers later uitgevind waarvoor die adres gebruik sou word. Verskeie boodskappe en oproepe is tussen hom [die spanmaat] en die klaagster uitgeruil. In een boodskap verwys sy glo na hom as “Babes”.
Pegram het getuig dat die spanmaat die klaagster glo in ’n stadium gevra het om die saak terug te trek. Volgens hom het die spanmaat ook gesê beskuldigde een se familie is bereid om haar te betaal.
Staat glo hy het sterk saak
Pegram het aan die hof gesê die twee se vrylating sal die boodskap uitstuur dat mense met status met ernstige oortredings kan wegkom.
Hy het gesê die ondersoek is feitlik afgehandel en dat die staat nog net wag op DNS-uitslae asook stilfoto’s van beeldmateriaal by die studentewoning.
Enkele verklarings moet ook nog geneem word.
Die borgtogaansoek hervat Donderdag 14 Mei wanneer Pegram deur die twee beskuldigdes se prokureur, Elton Rocherts, gekruisondervra sal word.
Quiton Galant, een van die ondersteuners van beskuldigde een se rugbyklub, het buite die hof aan die media gesê hy glo dat beide spelers onskuldig is.
“Die persoon wat ons ken, sal hom nie aan sulke gedrag skuldig maak nie. Hy [beskuldigde een] het verlede jaar by ons aangesluit, dit is sy tweede jaar by die klub.
“Jong meisies gooi weekliks hulself vir hom langs die rugbyveld. Dan het hy eerder iets positief vir hulle te sê as hom daai roete te gaan. Hy het opsies, en op grond daarvan maak [verkragting] nie vir my sin nie,” het Galant gesê.

“Ons glo in hulle onskuld en dat hulle dit sal bewys,” het hy bygevoeg.
Galant sê hy is bekommerd oor wat die saak vir beskuldigde een se rugbyloopbaan kan beteken.
Die koerant het vroeër berig dat beskuldigde een ’n kontrak by ’n semi-professionele rugbyklub in Limpopo losgelaan het, waar hy Maandag moes begin.
