Regering verklaar ramptoestand ná verwoestende storms in dié provinsies

Die Tuinroete beleef sy ergste oorstromings in 30 jaar. Foto: Garden Route District Municipality/Facebook
Die Tuinroete beleef sy ergste oorstromings in 30 jaar. Foto: Garden Route District Municipality/Facebook

Die regering het ’n nasionale ramptoestand verklaar nadat swaar reën, oorstromings en stormweer groot skade in verskeie provinsies veroorsaak het. Duisende mense is geraak terwyl noodspanne steeds besig is om hulp aan gemeenskappe te verleen.

In die afgelope paar weke is dele van die land deur aanhoudende storms getref. Riviere het oor hul walle geloop, paaie is beskadig en huise is oorstroom.

In sommige gebiede is mense ontruim en na veiligheid verskuif.

Die geaffekteerde provinsies waar die ramptoestand van krag is sluit in die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Noordwes, Noord-Kaap, Vrystaat en Mpumalanga.

Die Wes-Kaap is een van die provinsies wat swaar getref is. Rampbestuurspanne is op hoë gereedheid geplaas nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens verskeie waarskuwings oor swaar reën, sterk wind en gevaarlike seetoestande uitgereik het.

Volgens die waarskuwings kan sommige bergagtige gebiede tussen 200 mm en 300 mm reën ontvang. Windsterktes van tot 120 km/h word ook voorspel, terwyl groot golwe langs die kus gevaarlike toestande kan veroorsaak.

LEES | Kouefront bring swaar reën, moontlike oorstromings in Wynland mee

Die ernstige weerstoestande het reeds tot ontwrigtings gelei. Die Absa Run Your City Cape Town 10 km-wedloop is byvoorbeeld gekanselleer omdat organiseerders nie die veiligheid van deelnemers kon waarborg nie.

In die Tuinroete en Klein Karoo het swaar reën groot skade veroorsaak. Sommige gemeenskappe is van omliggende gebiede afgesny en noodskuilings moes oopgemaak word vir inwoners wat hul huise moes verlaat.

Die R328 naby Oudtshoorn in een van vele paaie in die Tuinroete wat gesluit is weens vloedskade. Foto: SABC/Facebook
Die R328 naby Oudtshoorn in een van vele paaie in die Tuinroete wat gesluit is weens vloedskade. Foto: SABC/Facebook

Die Karoo Donkey Sanctuary naby De Rust het ook ernstige skade opgedoen nadat groot hoeveelhede reën binne ’n kort tyd geval het. Die skuiling het gewaarsku dat die gevaar nog nie verby is nie aangesien water steeds styg.

Die verklaring van ’n nasionale ramptoestand beteken die regering kan nou vinniger hulpbronne en geld beskikbaar stel om provinsies en gemeenskappe by te staan. Dit maak ook beter samewerking tussen nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede moontlik terwyl reddings- en herstelwerk voortgaan.

Lees hierdie volledige artikel en ander nuus op NovaNews.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie