Lizz Meiring laat gehoor by Nampo skaterlag

Lizz Meiring.
Aktrise Lizz Meiring. Foto: Shanell Binedell.

Vir die eerste keer kry toneelspel ook sy plek op die besige Nampo-program hierdie afgelope week net buite Bothaville.

Ja, die immergewilde Lizz Meiring het die gehoor laat skaterlag in die rooi rose-tent tydens haar solovertoning The Real Housewives.

Meiring beskryf haarself as ’n aktrise, ‘geselser’ en joernalis, en ’n mens kan haar jarelange ervaring in al hierdie velde op die verhoog sien floreer.

Sy plaas die wêreld van realiteitsreekse op haar kenmerkende komiese manier in die kollig en kyk ook na die manier waarop mense mekaar in die openbaar behandel.

“Ek het die kontrakte gesien . . . die dames móét baklei,” skerts Meiring. “En asseblief, moenie hulle ‘dames’ noem nie. Dit klink soos ’n toilet.”

Maar, soos met alle goeie humor en satire, skuil daar dieper waarhede agter die giggel en lag. “Ek kan nie verstaan hoekom ons daarvan hou om mense op televisie te verkleineer en dit dan vermaak noem nie,” sê Meiring.

Dit is juis dié idee wat haar vertoning geïnspireer het. Volgens haar gaan The Real Housewives nie net oor werklikheidstelevisie nie, maar oor menslike gedrag en identiteit.

“Wie is ons werklik wanneer ons by die huis is? Almal van ons is sosiale akteurs op een of ander manier,” sê sy.

Die vertoning fokus op waarheid, persepsie en hoe vinnig stories versprei. Dít, veral in ’n wêreld waar almal voel hulle het die reg tot ’n opinie.

Temas soos generasieverskille, kultuur en familieverhoudings word kaalvuis blootgelê.

Een van die gehoor se gunsteling-oomblikke speel af wanneer ’n familie paniekbevange raak nadat ouma en oupa per groepboodskap aankondig hulle gaan “skei”.

Die familie begin onmiddellik gons en bespiegel, net om later uit te vind dit was bloot ’n tikfout en hulle wou eintlik sê hulle gaan “ski”.

Met skerp waarnemings en situasies wat baie bekend klink, wys Meiring hoe maklik mense spring na gevolgtrekkings en hoe humor soms die beste manier is om die waarheid raak te sien.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie