Outa: ‘Dank Manamela af, Cyril!’

Die minister van hoër onderwys, Buti Manamela (regs), saam met Brasilië se president, Luiz Inacio Lula da Silva.
Die minister van hoër onderwys, Buti Manamela (regs), saam met Brasilië se president, Luiz Inacio Lula da Silva. Foto: AFP.

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) sê dis hoog tyd dat Buti Manamela, die minister van hoër onderwys, afgedank word.

OUTA het gereageer op Manamela se besluit om die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) weer onder administrasie te plaas – kwalik vyftien maande nadat die vorige administrasie-termyn onder Freeman Nomvula verstryk het.

Die instelling is die eerste keer in 2018 onder administrasie geplaas.

Die besluit om dit weer onder administrasie te plaas enkele maande nadat Manamela onderneem het om dit binne drie maande te stabiliseer en volhoubaar te maak, is volgens Outa allesbehalwe ’n definitiewe ingryping.

“Dis eerder die gevolg van ’n volgehoue gebrek aan beslissende leierskap,” sê Rudie Heyneke, senior projekbestuurder by Outa.

Hy sê dit kon vermy gewees het as Manamela en sy voorgangers nie talle waarskuwings en bewyse van wanbestuur en sistemiese mislukkings geïgnoreer het nie.

“Ons sien dit oral in die hoëronderwyssektor – die vertraagde aanstellings, besluite wat betwis word en regsgedinge,” sê Heyneke. “Deursigtigheid ontbreek, en daar is ook bitter min konsultasie met belanghebbendes wat daadwerklike kommer uitspreek oor die sektor.”

Volgens Heyneke was NSFAS op die herstelpad nadat die vorige administrasie-tydperk verstryk het en dr. Karen Stander aangestel is as voorsitter van die NSFAS-raad. “Dinge het begin stabiliseer onder haar. Sy was ’n geloofwaardige aanstelling wat oor die nodige bestuursvaardighede beskik het.”

Stander het egter op 2 November 2025 bedank. Van haar redes was onderlinge spanning op die raad en inmenging met die aanstelling van ’n permanente uitvoerende hoof.

Heyneke sê Manamela moes onmiddellik ingegryp het, en haar ondersteun het. Maar nie eers nog drie raadslede se bedanking – onder hulle mense met noodsaaklike finansiële kundigheid – het hom laat ingryp nie.

“Manamela het die NSFAS-raad toegelaat om te vou.”

Geen groentjie

Manamela het op 21 Julie 2025 minister geword nadat Nobuhle Nkabane, wat in 2024 in die plek van dr. Blade Nzimande as minister aangestel is, uit haar amp ontslaan is. Outa sê Manamela moes ná agt jaar as adjunkminister oor genoeg institusionele kennis beskik het om presies te weet wat op hom wag.

“Hy moes geweet het hoe strukturele swakhede en wanbestuur NSFAS, die sektorale onderwys- en opleidingsowerhede (Setas) en die Nasionale Vaardigheidsfonds ondermyn,” sê Heyneke. “Hy moes beslis geweet het watter bestuursrisiko’s daar by NSFAS bestaan, en moes besef het vinnige optrede is noodsaaklik.”

Vrae oor nuwe administrateur

OUTA het ook sy kommer uitgespreek oor die aanstelling van Hlengani Mathebula as die nuwe NSFAS-administrateur. Mathebula is in 2016 deur Tom Moyane aangestel as die hoof van bestuur, internasionale betrekkings en kommunikasie by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Hy is een van drie senior bestuurslede wat deur die Nugent-kommissie van ondersoek na die SAID betrek is by ernstige wanbestuur. Die drie is in Julie 2019 geskors hangende dissiplinêre ondersoeke, maar het ’n maand later – voor die afhandeling daarvan – bedank.

Die DA het intussen versoek dat Manemela dringend aan die portefeuljekomitee vir hoër onderwys moet kom verduidelik waarom NSFAS weer onder administrasie geplaas is, en ook hoekom hy Mathebula as administrateur aangestel het.

’n Lang aanloop

Outa het in 2022 begin om korrupsie en wanbestuur by NSFAS te ondersoek, en het sedertdien onthul hoe miljoene rande verdwyn het of verkwis is.

In die organisasie se jongste verslag, wat in Februarie vanjaar uitgereik is, word getoon watter invloed strukturele veranderings aan die studente-akkommodasiestelsel het op die vloei van miljarde rande.

“Talle tussengangers is bygevoeg, en hulle baat by geld wat eintlik bedoel is vir duisende behoeftige studente,” sê Heyneke.

Outa se jongste verslag toon hoe studente-akkommodasie wat nie aan die departement van hoër onderwys en opleiding se minimum standaarde voldoen nie, wel geakkrediteer word. Daar was ook talle wanvoorstellings. “Een eiendom wat kwansuis oor 200 beddens vir studente beskik, is volgens ons ondersoek ’n gewone drie- of vier-slaapkamerhuis,” sê Heyneke.

Hoewel ’n evalueringskomitee aangedui het dat net twee diensverskaffers nodig is om akkommodasie op ’n aanlyn platform te bestuur, het die NSFAS-raad (wat intussen ontbind is) vier diensverskaffers goedgekeur.

“Onder hulle was een wat voorheen gediskwalifiseer is.”

Outomatiese aftrekkings van betalings vir akkommodasie is nog ’n bron van kommer, aldus Heyneke.

Outa het sedert die bekendmaking van die verslag met NSFAS se bestuur, hul regsverteenwoordigers en die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) vergader en verdere inligting oor ongerymdhede verskaf. “Dit sal nou deur die SOE ondersoek word,” sê Heyneke.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie