Die Lions se plek in die topagt en dus die uitspeelwedstryde vir Verenigde Rugbykampioenskap is skielik in die sakkie, nog voor hulle vanaand teen die Ierse span Munster in ’n wegwedstryd op die veld draf.
Dié nuus sal Lions-ondersteuners verheug, veral omdat die Lions in vorige VRK-seisoene nié die uitkloprondes kon haal nie.
Dit volg als nadat die Glasgow Warriors hulle die guns gedoen het om Ulster gisteraand te klop. Ulster eindig hul seisoen op 52-ligapunte en die Lions het reeds 53. Al verloor die Lions vanaand teen Munster sal hulle van hul huidige sewende plek afskuif na agste en Munster (wat tans negende is) sal Ulster uit die topagt skop.
Lions-ondersteuners sal tot vanaand 20:45 moet wag om te sien of hul span dalk die Iere in Limerick kan vastrap vir ’n beter posisie op die puntelys. Die Lions draf sonder twee staatsmakers op die veld wat tot nou ’n groot rol in die span se sukses gespeel het: Ruan Venter, flank/slot wat ’n besering het wat hom etlike maande van die veld gaan hou. Ook die Springbok-stut Asenathi Ntlabakanye wat vir 18 maande geskors is weens die gebruik van ’n verbode middel.

