Die borgtogaansoek van die omstrede Noordwes-sakeman Brown Mogotsi, is tot volgende Maandag in die Johannesburg-landdroshof uitgestel.
Mogotsi sê hy beplan om die staat te dagvaar vir sy inhegtenisneming Vrydag, wat hy glo onregmatig gebeur het.
“Die aanklagte is baie ernstig, ek gaan eerlik wees. Veral die aanklagte oor die besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Ons weet dat hierdie aanklagte ’n minimumvonnis van 15 jaar kan inhou,” het Makau Sekgatja, Mogotsi se prokureur, Maandag buite die hof aan die media gesê.
“Ons glo egter dat ons in ’n posisie is om hierdie aanklagte te kan betwis. Die hof sal daarvolgens vir mnr. Mogotsi vryspreek,” sê Sekgatja.
Mogotsi is Vrydagaand in hegtenis geneem kort nadat hy by die Madlanga-kommissie van ondersoek in Pretoria getuig het. Die kommissie ondersoek bewerings van korrupsie, politieke inmenging en kriminaliteit binne die polisie.
Hy staan tans tereg op aanklagte van regsverydeling, asook die beweerde onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Die staat beweer Mogotsi het in November verlede jaar sy eie sluipmoordaanval in Vosloorus opgevoer.
LEES OOK | Police investigate alleged hit op controversial businessman Brown Mogotsi
Volgens die polisie het voorlopige ondersoeke ook bevind dat die vuurwapen wat glo in die voorval gebruik is, met ander ernstige misdade, insluitend moord- en poging-tot-moord sake, verbind word.
“As die polisie wil ons sommer die geleentheid gebruik om ’n beroep op die publiek te doen om nie valse sake aanhangig te maak en misleidende inligting met die polisie te deel nie. Sulke optrede kan lei tot aanklagte aan regsverydeling.
“Maar ook, sulke sake vertraag geregtigheid vir ware slagoffers. Om valse sake te ondersoek is ’n mors van hulpbronne,” het Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, Maandag gesê.
Mogotsi se verskyning voor die Madlanga-kommissie het die afgelope week opslae gemaak nadat hy vergeefs probeer het om die kommissie se hoofbewysleier, adv. Matthew Chaskalson, te laat onttrek.
Hy het beweer Chaskalson het hom onder druk geplaas om getuienis teen ANC-sakeman Suleiman Carrim te lewer in ruil vir beskerming, maar regter Mbuyiseli Madlanga het die aansoek van die hand gewys.
