Die Stormers het dit duidelik gemaak dat hulle in die Europese Kampioenebeker wil aanbly, ondanks SA Rugby se kommer oor spelerwelstand.
SA Rugby-president, Mark Alexander, het onlangs die uitmergelende 11-maande-seisoen uitgelig en gesê dat ’n hersiening van toernooideelname in Julie gehou sal word.
“Ons moet moeilike besluite as organisasie neem, en ons gaan dit oor die volgende maand of twee doen. Dit moet in die beste belang van ons spelers wees,” het hy gesê.
Hoewel Alexander nie die Kampioenebeker direk genoem het nie, bevestig bronne dat dit die hoofkompetisie onder die vergrootglas is.
LEES | Oud-Bok Victor Matfield oor Kampioenebeker-debat: ‘Dit sal hartseer wees as SA onttrek’
Toe die Stormers oor hul standpunt gepols is, was uitvoerende hoof, Johan Le Roux, baie reguit.
“Stormers Rugby ondersteun Saru in hul strewe na ’n gesamentlike wêreldwye kalender, maar ons bly ook ten volle verbind tot die Kampioenebeker, die wêreld se voorste klubrugbykompetisie,” het Le Roux aan KickOff Rugby gesê.
“Projek 2029 bring alles wat ons doen in lyn met ons sterk ambisie om ’n groep te ontwikkel wat konsekwent om die titel kan meeding.
“Deelname aan die Kampioenebeker is baie aantreklik vir ons spelers, wat die uitdaging geniet om teen die beste klubs in Engeland en Frankryk mee te ding. Ons is oortuig dat ons ondersteuners se belangstelling in die kompetisie sal groei namate hulle meer vertroud raak met die formaat en die opponente.”
- Kry al jou rugbynuus in Die Papier, op NovaNews en op KickOff.com.
