100 dae deur Afrika – op ’n skaatsplank!

Jason Vanporppal. Foto: Instagram.com/@tiafu_
Jason Vanporppal. Foto: Instagram.com/@tiafu_

Honderd dae.

Dis hoe lank dit Jason (Jay) Vanporppal van Los Angeles geneem het om die meer as 5 500 km van Kampala, Uganda tot by Beaufort-Wes in die Klein Karoo af te lê – per skaatsplank.

Jay is gister – op die honderdste dag – soos ’n held ontvang by die bekende Ultra City-vulstasie by Drie Susters, en weer in Beaufort-Wes, waar hy oornag het. Sy eindbestemming is Kaapstad.

@jaayfilms

I didn’t expect this while trying to get a coffee 🤣🇿🇦 –#skateacrossafrica

♬ original sound – Jay

Jay wil met sy avontuur, wat hom deur verskeie Afrika-lande geneem, $20 000 insamel vir die bou van ’n skaatsbaan in Kampala, die hoofstad van Uganda. Hiervoor werk hy saam met ’n nie-winsgewende organisasie, wat hulle beywer vir ’n veilige skaatsbaan vir kinders in dié stad.

Hierdie is Jay se derde skaatsplank-avontuur. Dit het hom 76 dae geneem van Los Angeles tot in New York, en 54 dae om Japan van noord tot suid te deurkruis. Hiermee het hy $30 000 ingesamel om skaatsplanke vir minderbevoorregte kinders en tieners te koop.

Vloede, wilde diere – en gawe spietkops

Almal weet Afrika is nie vir sissies nie, en Jay gaan definitief huis toe met ’n paar stories oor ons kontinent. In Botswana moes hulle op die uitkyk wees vir wild.

@jaayfilms

I can’t believe my eyes.. 😳 #skateacrossafrica

♬ original sound – Jay

Die laaste deel van sy reis sou via die Tuinroete langs tot in Kaapstad wees. Maar die vloede en stormweer het gemaak dat hy die N1 deur die Groot Karoo moes aandurf.

Hy is gaande oor die Karoo, en nie eers reën en ’n onverwagse haelstorm gister naby Drie Susters kon sy entoesiasme demp nie. “Ek het al in reën en sneeu geskaats, maar nog nooit in hael nie. Ek veronderstel daar is altyd ’n eerste keer.”

Oor die vriendelikheid van Suid-Afrikaanse geregsdienaars kan hy nie uitgepraat raak nie. Wanneer hulle hom voorkeer, is dit nie vir ’n boete nie, maar vir ’n geselsie of ’n draai op sy skaatsplank.

@jaayfilms

They wanted to try to skate 🤣🇿🇦 #skateacrossafrica

♬ original sound – Jay

Wonderlike gasvryheid

Suid-Afrika se gasvryheid en vriendelikheid is die een ding waaroor Jay nie uitgepraat kan raak nie. “Dis net wonderlik! Dit verras my keer op keer,” vertel hy uit die Karoo.

Toe hy en twee mede-skaatsers 14 weke gelede uit Uganda weg is, het “baie mense” hom gewaarsku teen Afrika. “Maar ek het nog geen slegte ervaring hier gehad nie. Behalwe toe hulle nie my twee Ugandese vriende by die Lobatse-grenspos wou deurlaat nie.”

Dit was vir hom “baie sleg” om hulle na 10 weke se bloedsweet en ontbering agter te laat.

Jay het die tog van Swartruggens af alleen aangepak, en gehoop dat hulle hul visums sou kon uitsorteer en by hom aansluit in Johannesburg. Maar dit was toe nie moontlik nie.

@jaayfilms

Johannesburg here I come 🇿🇦 #skateacrossafrica

♬ original sound – Jay

In Johannesburg het hy met sy skaatsplank ’n demonstrasie gaan gee vir die kinders by die Winnie Mabaso-stigting se kinderhuis. Hier het Lisa Ashton, ’n voormalige Britse joernalis en die stigter van die organisasie, gehoor Jay sal die tog Kaapstad toe op sy eie moet aandurf.

Lisa het dadelik ’n voertuig beskikbaar gestel sodat Jerome Joel, wat ook vir die stigting werk, Jay kon vergesel.

Jerome ry teen 15km/h agter Jay aan waar hy op die skouer van die N1 skaats. Jay sê dinge sou baie moeiliker wees sonder Lisa en Jerome se hulp en reëlings.

Jerome is ook die een wat hom moed inpraat as ’n dag op die pad lank raak. (Jay lê tussen 80 en 100km per dag af.)

Saam met die Suid-Afrikaanse gasvryheid kom daar natuurlik ook lekker kos.

Roosterkoek is Jay se gunstelingdis tot dusver, en hy kan nie uitgepraat raak oor sy eerste eg Suid-Afrikaanse braai nie.

‘Drome kan waar word’

Jay is deesdae ’n professionele skaatsplankryer, maar daar was tye dat hy maar net daarvan kon droom om dit voltyds te doen en boonop die wêreld te sien. Hy is diep gelowig, en vertel dat hy ook baie daaroor gebid het.

@jaayfilms

We are officially op day 100 op the road skating across Africa! #skateacrossafrica

♬ original sound – Jay

“Jy kan enige iets doen as jy daarvan droom. Hou net aan probeer. Dit mag tyd neem, en daar gaan oppe en affe wees, maar jy kan jou drome bewaarheid.”

As hy vir sy jonger self kon raadgee, sou dit eenvoudig wees. “Keep going, and keep pushing.”

Jay hoop om op 25 Mei in Kaapstad aan te kom. Hy keer op 4 Junie terug na die VSA.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie