Israel se adjunkminister van buitelandse sake oor nuutste flottielje-saak: ‘Dit was nié ’n humanitêre sending’

’n Boot met simbole van een van die vaartuie wat deel is van die Gaza-gebinde hulpflottielje wat deur die Israeliese vloot onderskep is.
’n Boot met simbole van een van die vaartuie wat deel is van die Gaza-gebinde hulpflottielje wat deur die Israeliese vloot onderskep is. Foto: Jack Guez / AFP.

As die organiseerders werklik deur humanitêre hulp gemotiveer was, sou hulle die gevestigde landgrensoorgange gebruik het waardeur duisende ton geïnspekteerde hulp gereeld Gasa binnekom.

Só het Sharren Haskel, Israel se adjunkminister van buitelandse sake, Woensdag aan Die Papier gesê.

Ongeveer 50 vaartuie het verlede week as deel van die Global Sumud Flotilla uit Turkye vertrek in die jongste poging deur aktiviste om Israel se blokkade van Gasa te verbreek, nadat Israeliese magte ’n vorige konvooi verlede maand onderskep het.

Israeliese owerhede het gesê 430 aktiviste aan boord van die flottielje was op pad na Israel, terwyl die regtegroep Adalah gesê het sommige het reeds in Ashdod aangekom en word daar aangehou.

Ses Suid-Afrikaners word saam met die 430 aktiviste wat aanboord die flottielje was, aangehou.

LEES | UWC expresses support for Ottery student reportedly detained after flotilla interception

Haskel het teruggekap na die SA regering wat ’n verklaring uitgereik het wat Israel se gedrag om die flottielje in beslag te neem en die mense te “ontvoer” ten sterkste veroordeel het.

“Dit moet beklemtoon word dat die flottielje, ’n inisiatief wat deur burgers gelei word, op ’n vreedsame en humanitêre sending vertrek het,” het die regering se verklaring gesê.

“Die deelnemers het ten doel om aandag te vestig op die ernstige en dringende humanitêre behoeftes van die Palestynse volk in Gasa en om noodsaaklike hulp te lewer om die wydverspreide lyding van ’n volk wat onder besetting en volksmoord leef, te verlig,” skryf hulle.

Haskel sê egter dat die bewerings wat SA se regering maak verdraai die werklikheid.

“Hierdie vaartuig was nie ’n humanitêre sending nie, maar ’n politieke provokasie wat daarop gemik was om ’n wettige vlootblokkade te verbreek wat ingestel is om te keer dat Hamas wapens insmokkel,” sê Haskel.

Intussen het ’n video wat deur die verregse minister van nasionale veiligheid, Itamar ben Gvir, ’n groot debat aanlyn ontketen.

In die video kan gesien word hoe aktiviste vasgebind is en blykbaar gedwing word om te kniel.

Die video het vinnig internasionale verontwaardiging ontlok, en Ben Gvir is gekritiseer deur Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu en die minister van buitelandse sake, Gideon Saar.

Die beeldmateriaal, met die onderskrif “Welkom in Israel”, wys dosyne aktiviste wat gedwing word om te kniel met hul hande vasgebind en hul voorkoppe op die grond. Op plekke kan die Israeliese volkslied in die agtergrond gehoor word.

Die video wys ook hoe Ben Gvir die aktiviste uittart en ’n Israeliese vlag rondwaai.

Ben Gvir het kritiek van Netanyahu ontlok, wat gesê het die minister se optrede teenoor die aktiviste is “nie in lyn met Israel se waardes en norme nie”, en bygevoeg dat die owerhede die aktiviste “so gou as moontlik” sal deporteer.

Die Amerikaanse ambassadeur in Israel, Mike Huckabee het die nasionale veiligheidsminister se “veragtelike optrede” veroordeel.

“Universele verontwaardiging en veroordeling van elke hooggeplaaste Israeliese amptenaar . . . vir veragtelike optrede deur Ben Gvir. Die flottielje was ’n dom toertjie, maar Ben Gvir het die waardigheid van sy land verraai,” het Huckabee op X geskryf.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie