‘Geen rede vir kommer’ ná Kaapse rioolwater positief vir poliovirus toets

Twee verskillende poliovirus-stamme is in rioolwater in Kaapstad gevind. Foto: Argief/Stad Kaapstad
Twee verskillende poliovirus-stamme is in rioolwater in Kaapstad gevind. Foto: Argief/Stad Kaapstad

Hoewel die poliovirus in Kaapstad se rioolwater opgespoor is, sê die nasionale departement van gesondheid daar is tans geen rede vir openbare kommer nie.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het bevestig dat twee verskillende poliovirus-stamme (VDPV3 en nOPV2-L) in monsters van ’n afvalwaterbehandelingsaanleg in die Wes-Kaap gevind is.

Volgens die departement van gesondheid is dit deel van roetine-toetse wat gedoen word om moontlike uitbrake vroegtydig op te spoor.

Foster Mohale, die departement se woordvoerder, sê: “Daar is geen rede vir die publiek om bekommerd te wees nie. Wat ons hier sien is deel van ons aktiewe toesigstelsel en nie ’n uitbraak nie,” het Mohale verduidelik.

Hy sê verder dat die sogenaamde “positiewe bevindings” nie beteken dat daar mense is wat tans weens die virus siek is nie.

“Dit word as ‘entstof-geassosieerde gebeure’ geklassifiseer omdat geen bevestigde menslike gevalle opgespoor is nie. Dit beteken nie dat die virus in die gemeenskap versprei nie,” het hy gesê.

Polio is ’n siekte wat voorkombaar is deur inenting, en Suid-Afrika is reeds in 2019 deur die Wêreldgesondheidsorganisasie se Streeksertifiseringskommissie vir Afrika as polio-vry verklaar.

LEES OOK | Só lyk die wedloop om vir hantavirus op ’n passasierskip te toets

Volgens die departement dui die bevindings waarskynlik op ingevoerde virusse, moontlik van mense wat met verskillende entstowwe ingeënt is as dié wat in Suid-Afrika gebruik word. Dit dui dus nie op ’n plaaslike uitbraak nie.

Die departement werk saam met die Nios om toesig te versterk en die monitering van afvalwater verder op te skerp.

Mohale sê die stelsel vir gereedheid is reeds in plek, veral omdat sporadiese gevalle steeds in ander lande voorkom en mense oor grense beweeg.

Hy beklemtoon egter dat die publiek waaksaam moet bly.

“Ons vra mense om steeds enige moontlike simptome vroeg aan te meld by hul naaste kliniek of dokter. Dit sluit in spierswakheid, moegheid, pyn in spiere of gewrigte, asook asemhalings- of slukprobleme,” het Mohale gesê.

Hy voeg by dat hierdie simptome ook met baie ander toestande kan verband hou, maar dat mediese advies altyd verkieslik is indien daar onsekerheid is.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie