Oogpunt: Hofklap móét John pos kos

DA-leier, John Steenhuisen, tydens ’n toespraak verlede jaar.
DA-leier, John Steenhuisen, tydens ’n toespraak verlede jaar. Foto: Facebook.

Geordin Hill-Lewis, DA-leier, het ná sy verkiesing besluit om nie dadelik sy magspiere te bult deur aan die DA se ses ministers en drie adjunkministers te torring nie.

Daardeur het hy interne druk weerstaan. Veral John Steenhuisen se posisie as landbouminister was onder skoot en ook sy groot politieke bondgenoot, Dean Macpherson, minister van openbare werke, se kop is geëis. Duidelik het Hill-Lewis besluit politieke irritasie is nie genoeg om nou veranderings te maak nie.

Macpherson vaar immers heel goed. Dit is ’n ander storie by landbou. Dit weens die bek-en-klouseer-fiasko wat Steenhuisen van die ANC geërf het, maar self ook uiters onoortuigend hanteer. Tog het Hill-Lewis skynbaar gevoel Steenhuisen verdien ’n kans om die pandemie te help besweer.

Dit, hoewel baie DA-kandidate vir die plaaslike verkiesing later vanjaar, veral dié in die platteland, nie baie opgewonde daaroor is nie. Hulle wil oor dienslewering verkiesing veg, maar in landbougemeenskappe is dit moeilik met bek-en-klouseer wat in die lug hang.

Ook met die VF Plus en sommige landbou-organisasies wat alte gewillig is om ’n sondebok te help identifiseer.

Die Papier-redakteur, Barnard Beukman.
Die Papier-redakteur, Barnard Beukman.

In hierdie rubriek is voorheen gewaarsku dat die kwessie van Steenhuisen as landbouminister nie sal weggaan nie. Dit is nou onderstreep met die tweede vernederende hofnederlaag oor bek-en-klouseer wat hy gely het.

In albei gevalle was deel van die uitspraak in die interdikhof daarop gegrond dat die landboudepartement en of -minister nie reg opge­tree het nie en selfs die hof­uitspraak probeer vertraag het.

Pogings tot ’n ondeurdagte kompromis, dat boere self hul kuddes kan inent, mits onder staatsbeheer, is deur die hof opgehef. Boere kan nou self entstof kry en hul beeste inent. Dit bly ’n voorlopige bevel totdat ’n hofsaak daaroor later vanjaar plaasvind.

Of hy dit nou wil weet of nie, die jongste hofuitspraak plaas Steenhuisen se posisie weer terug op Hill-Lewis se lessenaar. Hy behoort die twee laaste hofuitsprake te lees en dan te verklaar dat dit genoeg bevat dat die DA enige ANC-minis­ter in so ’n situasie sou oorsien.

Dit sou minstens ’n geloofwaardige poging wees om steeds aan Steenhuisen vas te klou. Maar ongeloofwaardig indien die ge­noemde oefening hom tot daardie gevolgtrekking bring. Die idee dat Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou, vir Steenhuisen moet opvolg, is ook van die baan. Nie omdat hy deur die Gautenger Solly Msimanga as federale voorsitter van die party uitgeknikker is nie.

Hy en sy gesin het verlede jaar op vakansie na Taiwan gereis. China het gereageer deur alle bande met Meyer te verbreek. Die land is ’n groeiende invoerder van Suid-Afrikaanse landbouprodukte. ’n Ooreenkoms wat vooraf-behande­ling van sitrusvrugte verminder en die afskaffing van invoerbelasting vanuit Afrika na China, kan die land se aandeel in ons sitrusuit­voer van 6% na 10% en meer laat groei.

Dit sal bloot nie realpolitik vir pres. Cyril Ramaphosa wees om Meyer se aanstelling goed te keur nie. Die kwessie, wat nie sal weggaan nie, wag in Hill-Lewis se in-mandjie.

  • Barnard Beukman is die redakteur van Die Papier.

Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie