VRK: Taai stryd teen Leinster wag op Lions in Ierland

Lions-heelagter Quan Horn.
Lions-heelagter Quan Horn. Foto: Anton Geyser/Gallo Images.

Die Lions het ’n tydige hupstoot ontvang voor hul eerste uitspeelwedstryd sedert hulle in 2021 saam met die ander SA spanne by die Verenigde Rugbykampioenskap aangesluit het. Beide kaptein Francke Horn en senter Henco van Wyk sal Saterdag om 21:00 SA tyd teen Leinster in Dublin uitdraf.

Maar alles is nie maanskyn en ’n mooi rooi rosekleur nie. Skrumskakel Nico Steyn skuif in die beginspan in om die plek van die beseerde Morné van den Berg, wat van ’n armbesering herstel. Bok-stut Asenathi Ntlabakanye, wat tans vir 18 maande weens die gebruik van verbode middels geskors is, sou ook handig te pas gekom het.

Verenigde Rugbykampioenskap.

Ivan van Rooyen se span reis na die Aviva-stadion vir ’n alles-of-niks-kwarteindstryd nadat hulle vroeër die seisoen reeds teen die Ierse reuse op dieselfde veld in hul tweede laaste groepwedstryd gespeel het.

Die beskikbaarheid van Horn en Van Wyk is ’n groot hupstoot vir die Johannesburgse span, wat gedurende die week verskeie beseringsprobleme moes bestuur, maar nou op ’n stabiele wedstryddaggroep van 23 besluit het.

Ervare haker Franco Marais bied impak vanaf die reserwebank saam met Rynhardt Jonker en Haashim Pead.

Verenigde Rugbykampioenskap.

Assistent-afrigter Julian Redelinghuys sê die Lions is ten volle bewus van die uitdaging wat teen die verdedigende VRK-kampioene wag, maar hou vol dat die fokus op hul aksies in sleuteloomblikke sal bly.

“Die span wat vorentoe beweeg wanneer kontak plaasvind, het ’n beter kans, of dit nou aanval, verdediging of vaste fasette is,” het hy gesê.

“Ons weet wat ons dié naweek wil bereik, en ons glo as ons dit regkry, sal dit ons ’n goeie kans gee.”


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie