VRK: Eindstryd in SA tegnies moontlik, maar beserings en harde halfeindstryde oorsee pla

Skrumskakel Embrose Papier.
Skrumskakel Embrose Papier. Foto: Facebook.

Beide die Bulls en Stormers sal volgende naweek diep moet delf wanneer hulle in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) se halfeindronde weg van die huis af speel.

Die Bulls reis na Skotland om die liga-voorlopers, Glasgow Warriors, op Saterdag 6 Junie by Murrayfield aan te durf (afskop SA tyd 15:30), terwyl die Stormers later dieselfde aand in Ierland teen Leinster te staan kom (afskop SA tyd 18:30).

Die Bulls gaan die wedstryd met baie selfvertroue binne nadat hulle Munster met 45-14 op Loftus Versfeld afgeransel het.

Drieë deur Embrose Papier (2), Kurt-Lee Arendse, Johan Grobbelaar, Cameron Hanekom en Stravino Jacobs het hul aanvallende slaankrag ten toon gestel.

Johan Ackermann weet egter Glasgow sal ’n heel ander uitdaging wees, en daar is ook beseringsbekommernisse.

Springbok-stut Wilco Louw moes voor Saterdag se wedstryd teen Munster onttrek weens brongitis, terwyl Stravino Jacobs weens ’n besering nie sal saamreis nie.

Die Stormers reis intussen na Dublin om ’n gedugte Leinster-span aan te pak. John Dobson se span het Cardiff met 41-21 in die kwarteindronde geklop, maar die oorwinning is oorskadu deur ernstige beserings aan twee sleutelspelers.

Sacha Feinberg-Mngomezulu (enkel) en Seabelo Senatla (kopbesering) sal nie in die halfeindstryd te sien wees nie. Dobson het die verliese as ’n “groot terugslag” en “ver van ideaal” beskryf, veral voor so groot wedstryd.

Daar is ook kommer oor slot Ruben van Heerden en senter Dan du Plessis.

Wen beide SA spanne, sal die eindstryd in Kaapstad plaasvind. As albei spanne nie wen nie, sal dié wedstryd oorsee plaasvind aangesien Leinster en Glasgow bo die Bulls en Stormers op die puntelys geëindig het.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie