Springbok-afrigter Rassie Erasmus het Saterdagaand ’n opwindende groep spelers aangekondig vir die Springbokke se eerste wedstryd vir die jaar. Die 51 spelers sal beide die Springbokke en die SA ‘A’ se spanne vir hul onderskeie wedstryde teen die Barbarians en Zimbabwe in Gqeberha op Saterdag 20 Junie vol maak.
21 spelers wat gekies is moet nog hul debuut maak vir die Bokke. Die Bulls-spelers is ook nie vir die eerste wedstryde beskikbaar nie, want hulle sal nog die vorige aand, 19 Junie, in die Verenigde Rugbykampioenskap-eindstryd teen Leinster in Ierland speel.
Dié groep sluit die SA o. 20-spelers Yaqeen Ahmed (losskakel/senter), Danie Kruger (stut), Luan Giliomee (veelsydige agterspeler), Vusi Moyo (losskakel), Oliver Reid (stut), Liam van Wyk (haker), asook die Junior Springbok-kaptein Riley Norton (losvoorspeler/slot), Siphosethu Mnebelele (haker), Markus Muller (senter) en Zekhethelo Siyaya (veelsydige agterspeler) in, wat almal deel was van die uitgebreide Springbok-belyningskampgroep.

Ander spelers wat nog die groen en goud oor hul kop moet trek, is Paul de Villiers (flank), Bathobele Hlekani (veelsydige voorspeler), Hanro Jacobs (stut), Jurenzo Julius (veelsydige agterspeler), Imad Khan (skrumskakel), JJ Kotze (haker), Sibabalwa Mahashe (losvoorspeler), Haashim Pead, Nico Steyn (albei skrumskakels), Emmanuel Tshituka (flank) en Jaco Williams (veelsydige agterspeler).
Die Japan-gebaseerde spelers wat hul klubverpligtinge voltooi het, sal van die begin van die kamp af hierdie Maandag in Johannesburg aansluit, terwyl die ander spelers sal aanmeld sodra hul amptelike seisoen geëindig het.
“Ons het ’n groot groep spelers gekies aangesien ons ’n Springbok- en SA ‘A’-span vir die seisoen se openingsdubbelstryd in Gqeberha gaan aanwys, en dit sal op die lang termyn voordelig wees terwyl ons die groep bou met die oog op volgende jaar se Rugbywêreldbeker en daarna,” het Erasmus gesê.
“Daar is ook ’n opwindende mengsel van ervare spelers en jong talent in die groep, en dié formule het in die verlede goed vir ons gewerk om ’n duidelike ontwikkelingspad te skep en diepte binne die groep op te bou.”
Die oefengroep vir die wedstryde teen Engeland (4 Julie), Skotland (11 Julie) en Wallis (18 Julie) sal op Sondag 21 Junie, ná afloop van die VRK aangekondig word.
Voorspelers
Lood de Jager (Wild Knights), Paul de Villiers (DHL Stormers), Ben-Jason Dixon (DHL Stormers), Pieter-Steph du Toit (Toyota Verblitz), Eben Etzebeth (Hollywoodbets Sharks), Neethling Fouche (DHL Stormers), Bathobele Hlekani (Fidelity Securedrive Lions), Hanro Jacobs (Hollywoodbets Sharks), Vincent Koch (Hollywoodbets Sharks), Siya Kolisi (Hollywoodbets Sharks), JJ Kotze (DHL Stormers), Danie Kruger (DHL Stormers), Sibabalwa Mahashe (Fidelity Securedrive Lions), Malcolm Marx (Kubota Spears), Ntuthuko Mchunu (DHL Stormers), Siphosethu Mnebelele (Vodacom Bulls), Salmaan Moerat (DHL Stormers), Franco Mostert (Honda Heat), Ox Nche (Hollywoodbets Sharks), Riley Norton (DHL Stormers), Zachary Porthen (DHL Stormers), Oliver Reid (DHL Stormers), Evan Roos (DHL Stormers), Emmanuel Tshituka (Hollywoodbets Sharks), Vincent Tshituka (Hollywoodbets Sharks), Liam van Wyk (Hollywoodbets Sharks), Andre-Hugo Venter (DHL Stormers), Boan Venter (Edinburgh), Jasper Wiese (Urayasu D-Rocks).
Agterspelers
Yaqeen Ahmed (DHL Stormers) Lukhanyo Am (DynaBoars), Damian de Allende (Wild Knights), Faf de Klerk (Canon Eagles), Andre Esterhuizen (Hollywoodbets Sharks), Aphelele Fassi (Hollywoodbets Sharks), Luan Giliomee (Hollywoodbets Sharks), Quan Horn (Fidelity Securedrive Lions), Jurenzo Julius (Hollywoodbets Sharks), Imad Khan (DHL Stormers), Cheslin Kolbe (Tokyo Sungoliath), Jesse Kriel (Canon Eagles), Manie Libbok (Kintetsu Liners), Vusi Moyo (Hollywoodbets Sharks), Markus Muller (DHL Stormers), Haashim Pead (Fidelity Securedrive Lions), Zekhethelo Siyaya (Hollywoodbets Sharks), Nico Steyn (Fidelity Securedrive Lions), Edwill van der Merwe (Hollywoodbets Sharks), Damian Willemse (DHL Stormers), Grant Williams (Hollywoodbets Sharks), Jaco Williams (Hollywoodbets Sharks).
