Nieu-Seeland raap Bok-hulpafrigter Tony Brown op ná 2027-Rugbywêreldbeker

Tony Brown.
Bok-hulpafrigter Tony Brown. Foto: SA rugby.

Ná ’n baie opwindende rugbynaweek met Verenigde Rugbykampioenskap-uitklowedstryde, ’n nuwe Bok-oefengroep en die Blitsbokke wat speel, sou dit altyd interessant wees om te watter omstrede nuus rondom dié sport Bok-liefhebbers onkant betrap.

Die nuus wat die meeste opslae maak is dat Bok-hulpafrigter Tony Brown amptelik by die Kiwi’s gaan aansluit wanneer sy kontrak met Saru verstryk het.

Brown, wat in 2024 by die Springbokke aangesluit het en ’n groot rol gespeel het in die vorming van hul nuwe aanvallende spelpatroon, sal ná die Wêreldbekertoernooi in Australië in 2028 die nasionale span verlaat.

“My kontrak met Nieu-Seeland begin eers in 2028, so daar is nog ’n lang pad voor dit ter sprake kom,” het Brown gesê.

“Op die oomblik is ek ten volle verbind tot die Springbokke. Wat ons oor die volgende twee jaar bou en probeer bereik as ’n span, is my enigste fokus.”

Brown gaan in 2028 by Nieu-Seeland aansluit.
Brown gaan in 2028 by Nieu-Seeland aansluit. Foto: Steve Haag Sports/Gallo Images.

Saru se uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, het Brown bedank vir sy professionaliteit en eerlikheid gedurende sy tyd by die unie.

“Ons is dankbaar teenoor Tony vir sy toewyding, lojaliteit en eerlikheid gedurende sy tyd by ons,” het Oberholzer gesê.

“Hy het ’n geweldige bydrae gelewer tot die Springbokke en SA rugby as geheel sedert hy by ons aangesluit het, en ons twyfel nie dat hy sal voortgaan om alles te gee om die span te help om die hoë standaarde wat ons vir onsself stel op die veld te handhaaf nie.”

Springbok-hoofafrigter Rassie Erasmus het ook die duidelikheid verwelkom en gesê hy is opreg bly vir Brown terwyl hy sy eerlikheid waardeer.

“Tony het ’n merkwaardige verskil gemaak, beide op en van die veld af, en hy was altyd oop met ons oor sy begeerte om nader aan sy familie te wees en oor die All Blacks wat ’n spesiale plek in sy hart het, en ons is opreg bly vir hom,” het Erasmus gesê.

“Ons het in die verlede die fout gemaak om kontrakte in ’n Rugbywêreldbekerjaar te onderhandel, en hierdie duidelikheid sal ons almal toelaat om voluit voort te gaan met ons voorbereiding vir hierdie en volgende seisoen.”

Bok-breier, Rassie Erasmus.
Bok-breier, Rassie Erasmus. Foto: Getty Images.

Oud-Kiwi-vleuel Jeff Wilson het sy land se besluit om Brown te betrek, geloof.

“Hulle wou Tony sonder twyfel betrek, maar hy het homself aan die Springbokke en Suid-Afrikaanse rugby verbind. En nou is daar duidelik daardie venster ná die Rugbywêreldbeker.”

“Interessante tydsberekening, maar ek is opgewonde vir Nieu-Seeland se rugby, want jy kry die gevoel jy het een van die bestes ter wêreld wat saam met ons beste spelers gaan werk.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie