Feroz Khan trek aansoek oor elektroniese toestelle teen Madlanga-kommissie terug, sal 1 Julie begin getuig

Feroz Khan sal 1 Julie voor die Madlanga-kommissie begin getuig.
Feroz Khan sal 1 Julie voor die Madlanga-kommissie begin getuig. Foto ter illustrasie: Unsplash.

Genl.maj. Feroz Khan, tweede-in-bevel van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, sal nou 1 Julie met sy getuienis voor die Madlanga-kommissie moet getuig. Dít ten spyte van talle probeerslae om die kommissie te verhoed om sy elektroniese toestelle as bewysstukke te gebruik en om ’n interdik teen die kommissie te kry.

Aan die einde van Mei is Khan se aansoek om sy gekonfiskeerde elektroniese toestelle terug te kry, van die hooggeregshof in Johannesburg van die hofrol geskrap.

Sowat ֹ’n week later was hy terug in die hooggeregshof en het hy onder andere die Madlanga-kommissie en president Cyril Ramaphosa as respondente in sy aansoek genoem.

Hy het aangevoer dat die kommissie sy magte oorskry het toe dit op 10 Mei in ’n klopjag beslag op sy elektroniese toestelle – vyf selfone en ’n iPad – gelê het.

LEES | Two Gauteng police Major Generals in court over alleged illicit dealing in precious metals

Intussen het die kommissie Khan beveel om 1 Julie te verskyn en dat daar nie nou al ’n voorgestelde tydsduur vir sy getuienis is nie.

Volgens Jeremy Michaels, die kommissie se woordvoerder, is Khan se getuienis van “kardinale belang vir die kommissie se werk, gegewe die baie ernstige bewerings wat teen hom, ander betrokke beamptes en ook ander individue gemaak is.”

Van links is besigheidsman Tariq Downes, Feroz Khan en Ebrahim Kadwa in Mei vanjaar.
Van links is besigheidsman Tariq Downes, Feroz Khan en Ebrahim Kadwa in Mei vanjaar. Foto: Argief.

In ’n drastiese ommeswaai het Khan nou sy aansoek teruggetrek om die Madlanga-kommissie te verhoed om toegang tot sy elektroniese toestelle te verkry én om agter geslote deure voor die kommissie te getuig.

Dit het aan die lig gekom dat Khan en genl.maj. Ebrahim Kadwa glo ingemeng het met die Aeroton-dwelmklopjag van sowat R300 miljoen se kokaïen. Dié klopjag is in Julie 2021 uitgevoer.

Genl.maj. Feroz Khan en die bekende grimeerkunstenaar Maya Mia voor die luukse Houghton-herehuis in Johannesburg.
Genl.maj. Feroz Khan en die bekende grimeerkunstenaar Maya Mia voor die luukse Houghton-herehuis in Johannesburg. Foto: X.
LEES | Bail denied for police sergeant charged with unlawful possession of explosives and firearms

Daar word ook beweer dat Khan, EFF-leier Julius Malema en mede-stigter van die tabakmaatskappy Carnilinx, Mohammadh Sayed, saamgesweer het om van die voormalige inspekteur-generaal, dr. Setlhomamaru Dintwe, ontslae te raak. Khan het ook glo vertroulike inligting met Malema gedeel.

Volgens die kommissie se bevel, sal Khan antwoorde moet gee op onder meer hoe hy van die dwelmklopjag uitgevind het, hoekom hy self op die toneel was en wat sy rol daar was.

EFF-leier Julius tydens sy vuurwapensaak se vonnisoplegging op 2 April vanjaar.
EFF-leier Julius tydens sy vuurwapensaak se vonnisoplegging op 2 April vanjaar. Foto: Gallo Images/Randell Roskruge.

Hy sal ook antwoorde oor Kadwa se teenwoordigheid, sy bevele aan ander senior SAPD-offisiere en die bewerings van inmenging moet gee.

Sy verhouding met sakeman Brown Mogotsi en Vusimusi “Cat” Matlala sal ook sentraal tot sy getuienis wees.

Volgens skermgrepe van WhatsApp-boodskappe wat wyd op die sosiale media versprei word, kan gesien word hoe Khan, Malema en Sayed glo sensitiewe polisie-informasie openlik bespreek.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie