‘n Historiese samewerkingsooreenkoms, gemik daarop om Afrikaanse teater en uitvoerende kunste opnuut ’n prominente plek op die Staatsteater se groot en glansryke verhoë te gee, is op 12 Junie amptelik deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Suid-Afrikaanse Staatsteater (SAST) bekendgemaak.
Die Staatsteater – een van die grootste teaterkomplekse in die Suidelike Halfrond – was vir dekades ná sy opening in 1981 die spilpunt van glans, aansien en ’n teaterbelewenis sonder gelyke. Die unieke vennootskap tussen die FAK en die SAST vorm deel van ’n omvattende strategie om Afrikaanse gehore by dié “grande dame” terug te verwelkom.
Inisiatief dra by tot toename in teatergangers na middestad
Die Staatsteater het onlangs ’n omvangryke projek in samewerking met die Suid-Afrikaanse Reserwebank en die Stad Tshwane van stapel gestuur om die gebied rondom die teater op te knap en te beveilig.
“Ons sien reeds die vrug van hierdie herlewingsinisiatief in die toename in teatergangers na die middestad,” sê Shane Maja, uitvoerende hoof van die Staatsteater.
