Verdagte nr 3 vas ná gru-moord van twee bejaardes in Krugerwildtuin

Dina en Ernst Marais.
Dina en Ernst Marais.

Die Minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, mnr. Willie Aucamp, het die vinnige inhegtenisneming van ‘n derde verdagte in verband met die moord van Ernst Marais (71) en sy vrou, Dina (73) in die noordelike streek van die Krugerwildtuin verlede maand geloof. Die verdagte is op Vrydag 12 Junie 2026 in Zimbabwe in hegtenis geneem as gevolg van samewerking tussen Suid-Afrikaanse, Mosambiekse en Zimbabwiese wetstoepassingsagentskappe.

“Hierdie inhegtenisneming toon dat ons toewyding om elke individu wat by hierdie tragiese misdaad betrokke is, op te spoor en aan te hou, onwrikbaar en vasberade was,” het minister Aucamp gesê.

“Ek wil die effektiewe en doeltreffende samewerkingspogings van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), SANParke-veldwagters, Mosambiek se Kriminele Ondersoekdirektoraat en die Gonarezhou Nasionale Parke-veldwagters wat die derde verdagte in hegtenis geneem het en hom later aan die Zimbabwiese Polisie oorhandig het, werklik prys.”

Die eerste twee verdagtes is vroeg in Junie in Mosambiek vasgetrek terwyl die derde verdagte aanvanklik die gereg ontduik het. Hy is weldra in Zimbabwe opgespoor en in hegtenis geneem. Toepaslike uitleweringsprosedures sal gevolg word.

Minister Aucamp het, saam met SANParke se bestuur, beklemtoon dat hierdie arrestasies as ‘n duidelike waarskuwing moet dien vir enigiemand wat kriminele aktiwiteite binne die Krugerwildtuin oorweeg, dat sulke optrede met die volle mag van die wet hanteer sal word en dat diegene wat verantwoordelik is, meedoënloos agtervolg en voor die gereg gebring sal word.

Hy het weer eens sy meegevoel aan die Marais-familie betuig en die regering se verbintenis herbevestig om te verseker dat diegene wat verantwoordelik is, aanspreeklik gehou word.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie