Die sibbes, Abigail (18) en Sara-Lee (16) het vyf jaar gelede al die spaan in die water gesit en begin kanopolo speel. In September vanjaar gaan die twee teen die bestes ter wêreld in Duitsland meeding.
Abigail (doelwagter) en Sara-Lee (aanvaller) is gekies vir Suid-Afrika se o.21-vrouespan vir die ICF Kanopolo-Wêreldkampioenskap, wat van 15 tot 20 September in Duisberg plaasvind. Die toernooi sal die span se eerste verskyning as seniors op die wêreldverhoog wees. Hulle het wel reeds in 2023 Suid-Afrika by die Junior Wêreldkampioenskap in Ierland verteenwoordig, maar nou het hulle hul senior kleure verwerf. En as sake mooi loop, kan die twee ook aan die volgende ICF Kanopolo-Wêreldkampioenskap deelneem wat in 2030 in Brisbane, Queensland, gaan plaasvind.
“Dit beteken ongelooflik baie om vir so ’n groot toernooi gekies te word,” het Abigail gesê.
“Ons oefen al lank vir hierdie geleentheid en is dankbaar dat ons saam met so ’n ongelooflike span kan reis – en nog meer besonders dat ons albei deel daarvan is.”
Voorbereiding vir die kampioenskap het die afgelope maande verskerp, met die twee wat hul tyd tussen gimnasiumsessies, oefening op die water en taktiese ontleding verdeel.
“Ons sal graag onder die top agt wil eindig, wat ’n ongelooflike prestasie sou wees vir ’n span wat sy debuut by ’n wêreldkampioenskap maak,” het Abigail gesê.
“Wat ook al die uitslag is, ons hoop om die weg te baan vir baie jong atlete wat in die toekoms ons voorbeeld sal volg.”
Sara-Lee het bygevoeg dat enigiets moontlik is wanneer jy die ondersteuning het van mense wat jou liefhet en in jou glo.
“Solank jy glo jy kan dit doen, is niks onmoontlik nie,” het sy gesê.
Die o.21-vrouespan
- Zianté Nel
- Guillia Lutolf
- Sara-Lee Bottger
- Emmerentia Lensch
- Yaelah Sharpley
- Lila Webster
- Abigail Bottger
- Lecetia Lesch

Benewens die vrouespan gaan daar ook twee ander spanne van Suid-Afrika aan die Wêreldkampioenskap deelneem.
Die o.21-manspan

Die manspan

