Die omstrede Peet Viljoen en sy vrou Mel Viljoen was bewus daarvan dat die polisie op hul spoor is en daarom het hulle die land gevlug voordat die Valke op hul toegeslaan het, beweer die privaatondersoeker, Mike Bolhuis.
Die egpaar het die media om die bos gelei deur voor te gee dat hulle na Australië toe sou gaan vir ’n vakansie, maar eintlik het hulle na Amerika gevlug sê, Bolhuis.
Peet het Donderdag vlugtig in die Pretoriase gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn nadat hy Dinsdag op die O.R. Tambo-lughawe in hegtenis geneem is. Hy het pas uit die Verenigde State geland nadat hy daar uit die tronk vrygelaat is vir diefstal. Die saak is egter uitgestel na 26 Junie en hy beplan dan om ’n aansoek om borgtog te bring. Die staat gaan borgtog teenstaan, bevestig Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).
Hul gedrag toon egter dat hulle ’n vlugrisiko is, benadruk Bolhuis.
Hoewel die 400 aanklagtes van korrupsie, bedrog, diefstal en vervalsing al 16 jaar lank teen Peet ondersoek word, dit weer op die hofrol geplaas is net voordat hy in Mei-maand verlede jaar Suid-Afrika gevlug het.
’n Nuwe landdros sou die saak oorneem en sou die hofsaak van voor af begin, bevestig Mahanjana. Vyf ander beskuldigdes in die saak is nog nooit gearresteer nie en moet nog voor die hof gebring word, voeg hy by.
Peet is in 2010 alleen in hegtenis geneem en het hy in die Pretoriase gespesialiseerde handelsmisdaadhof verskyn. Die inhegtenisneming volg op ’n omvattende ondersoek na die beweerde bedrieglike verkoop van eiendomme wat aan die Johannesburg Property Company (JPC), ’n munisipale entiteit wat volledig deur die Stad Johannesburg besit word, behoort.
Daar word beweer dat verskeie JPC-eiendomme in Mei 2010 onregmatig aan niksvermoedende bona fide kopers verkoop is. Ten spyte van die oordrag en verkoop van die eiendomme, het die stad na bewering geen betaling vir die transaksies ontvang nie, wat tot aansienlike finansiële skade gelei het.
Die sake is oorspronklik by die Sandton- en Boschkop-polisiestasies aangemeld, voordat dit na die Valke se Handelsmisdaad-eenheid verwys is vir verdere ondersoek.
Luidens hofstukke spruit die saak uit ’n beweerde grondkapingsskema waarin minstens 46 staatseiendomme glo onregmatig oorgedra en verkoop is. Onder die betrokke bates is dele van die Norscot Koppies- en Kingfisher-natuurreservate in Fourways, asook grond in Bryanston langs die voormalige William Nicol-rylaan (nou Winnie Mandela-rylaan). Die betrokke eiendomme is destyds op meer as R27 miljoen gewaardeer.
