Skokkende skoolskietery in Filippyne: Vuurwapens geïdentifiseer

Foto: X/@le_Parisien
Foto: X/@le_Parisien

Twee leerders, onderskeidelik 15 en 14 jaar oud, het Maandag binne ’n skool in die sentrale Filippyne losgebrand waartydens drie tieners doodgeskiet en sewe ander beseer is, het die polisie bekend gemaak.

Daar is nou ook aangedui dat een van die twee vuurwapens wat deur die tieners tydens die aanval gebruik is, ‘n 9 mm Glock-pistool is wat, of uitgereik was, aan ’n polisievrou wat in die oosterse Visayas-streek gestasioneer is. Sy en die jong verdagte is na bewering familie.

Die tweede vuurwapen, ‘n .38-pistool is volgens die nasionale polisiewoordvoerder, Allen Rae Co, in die naam van ‘n sekuriteitsmaatskappy in Cebu-stad geregistreer.

Die twee beweerde skieters het volgens lt. Evalyn Diaz “lukraak” binne die San Jose-hoërskool losgebrand. Die geweld het paniek veroorsaak en leerders moes vir veiligheid skuil.

Irvin Nogar, ’n 52-jarige onderwyser in sosiale studies, het aan AFP gesê hy was besig met ’n klas by die skool in Leyte-provinsie toe hy verskeie harde skote gehoor het.

“Ek het ’n skieter na ons area sien beweeg, toe sê ek vir die leerders om kalm te bly en onder hul lessenaars weg te kruip. Ek het die deur gesluit. Hulle het gehuil en was paniekerig,” het hy gesê.

’n Video wat wyd deur plaaslike media versprei is en deur AFP geverifieer is, wys verskrikte kinders wat skree en huil terwyl hulle in ’n klaskamer wegkruip te midde van geweervuur.

Waarskuwing: Beeldmateriaal mag sensitiewe kykers ontstel

Jennelyn Badoria, die ma van ’n 15-jarige leerder wat in die voorval dood is, meen die persone wat die wapens aan die kinders beskikbaar gestel het, moet aanspreeklik gehou word.

“Ek vra dat die wapenbesitters aangekla word, want die wapens sou nie in die kinders se hande beland het as dit nie vir hulle was nie,” het sy buite die skool gesê.

Diaz het gesê die polisie het inligting ontvang dat boeliegedrag moontlik die motief was, maar dat die twee verdagtes steeds ondervra word.

“Ons ondersoek nog hoe hulle die wapens die skool kon binnesmokkel,” het sy gesê.

“Die twee minderjariges is steeds by die polisiestasie waar hulle in die teenwoordigheid van hul ouers ondervra word.”

Volgens ’n verslag van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO) uit 2022 het meer as die helfte van Filippynse seuns en 43% van meisies aangedui dat hulle minstens ’n paar keer per maand geboelie word — meer as dubbel die gemiddelde koers in ander OESO-lande.

‘Hartseer en vrees’

Daar was geen onmiddellike inligting oor die toestand van die sewe beseerde leerders nie. Hulle ontvang behandeling in ’n plaaslike hospitaal. ’n Vroeëre polisieverslag het die getal beseerdes op vyf geplaas.

Die onderwysdepartement het die voorval as ’n “hoë-waarskuwingsituasie” beskryf.

“Amptenare van ons sentrale kantoor, saam met personeel van streek- en distrikskantore, werk op die terrein saam met skoolowerhede en wetstoepassers om die skool veilig te hou,” het die departement gesê.

Hoewel skietvoorvalle by skole selde in die Filippyne voorkom, is sewe leerders verlede maand in Cavite-provinsie beseer tydens ’n mesaanval deur ’n ouer leerder.

Die woordvoerder van president Ferdinand Marcos Jr., Claire Castro, het gesê die president is diep bedroef oor die voorval.

“Enigeen, veral die ouers van die slagoffers, sal hartseer en vrees ervaar,” het Castro gesê. Sy het bygevoeg dat maatreëls ingestel word om veiligheid in openbare ruimtes, insluitend skole, te versterk.

In 2022 is drie mense, waaronder ’n voormalige stadsburgemeester, doodgeskiet voor ’n gradeplegtigheid by Ateneo de Manila-universiteit in die Filippynse hoofstad.

Daar is later vasgestel dat dié aanval ’n sluipmoord was wat deur persoonlike motiewe aangevuur is.

Wettige vuurwapenbesit word streng gereguleer in die suidoos-Asiatiese land, maar daar bestaan steeds ’n groot mark vir sluikhandel in vuurwapens.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie