7 eerste ministers in 10 jaar, maar 18-jarige Larry steel die kollig

Keir Starmer Foto: Getty Images
Keir Starmer Foto: Getty Images

Brittanje sal vanjaar sy sewende eerste minister in ’n dekade hê nadat die Arbeidersparty-leier, Keir Starmer, Maandag deur sy eie party uit die kussings gelig is.

Die party se selfveroorsaakte politieke krisis volg ’n tendens wat deur die Konserwatiewe Party gevestig is toe hulle aan bewind was.

Starmer het Maandag sy bedanking aangekondig ná maande van dalende steun in meningspeilings en toenemende druk van sy eie LP’s.

Die veteraan-Arbeiderspolitikus Andy Burnham het bevestig dat hy hom beskikbaar sal stel om Starmer op te volg.

Die hoofopposisie, die Konserwatiewes, het tussen 2016 en Julie 2024 vyf eerste ministers gehad voordat Starmer met ’n oorweldigende verkiesingsoorwinning aan bewind gekom het.

Die vinnige wisseling van leiers het Starmer, nog voordat hy eerste minister geword het, laat oproep tot ’n einde aan die politieke chaos van voortdurende leiersveranderinge.

Minder as twee jaar later het Starmer nou self dieselfde lot getref.

Larry the Cat sorg vir ‘n ligter oomblik

Die 18-jarige kat wat langer as al die afgelope 7 Britse eerste mininsters in die amptelike kwartiere woon, het in alle waarskynlikheid meer as die spreekwoordelike 9 lewens. Die X-profiel @Number10cat het Maandag 22 Junie heerlik die spot gedryf met wat deur ander as “chaos” beskryf is.

Vorige Britse eerste ministers

David Cameron (Mei 2010 – Julie 2016)

Brittanje se besluit om die Europese Unie verlaat, het Cameron se tweede termyn as eerste minister beëindig.

Nadat die land in die Brexitreferendum van Junie 2016 gestem het om die EU te verlaat, het Cameron, wat die “bly”-veldtog ondersteun het, bedank.

Theresa May (Julie 2016 – Julie 2019)

May het die leisels oorgeneem te midde van die politieke onstuimigheid ná die Brexit-referendum.

Sy het die volgende jaar ’n vervroegde verkiesing uitgeroep om haar posisie in Brexit-onderhandelinge te versterk, maar die strategie het misluk toe haar party wel die grootste in die parlement bly, maar sonder ’n meerderheid.

Nadat sy nie haar Brexit-ooreenkoms deur die parlement kon kry nie, het die Konserwatiewes swaar verloor in die Europese Parlementsverkiesing van Mei 2019, wat tot haar bedanking gelei het.

Boris Johnson (Julie 2019 – September 2022)

Johnson, bekend vir sy onkonvensionele styl en kontroversies, moes die land deur die COVID-19 pandemie en Brexit lei.

Hy het die Konserwatiewes tot ’n groot oorwinning in die algemene verkiesing van Desember 2019 gelei.

Verskeie skandale het egter sy posisie verswak, en hy is uiteindelik gedwing om te bedank nadat ministers en adviseurs in groot getalle hul poste neergelê het.

Liz Truss (September 2022 – Oktober 2022)

Truss was slegs 49 dae eerste minister – die kortste termyn ooit.

Sy is uit die amp gedwing ná die mislukking van haar omstrede mini-begroting wat op belastingverlagings gefokus het.

Haar ekonomiese beleid het die finansiële markte ontstel en Brittanje op die rand van ’n finansiële krisis geplaas, wat haar die steun van haar eie party gekos het.

Rishi Sunak (Oktober 2022 – Julie 2024)

Sunak was ongeveer 20 maande lank eerste minister voordat hy die algemene verkiesing van 2024 teen Starmer verloor het, wat ’n einde gebring het aan 14 jaar van konserwatiewe bewind.

Hy het wel stabiliteit teruggebring ná die Truss-debakel, maar kon nie die voortdurende verdeeldheid binne sy party stop nie.

Die voormalige finansier, wat persoonlik baie welgesteld is, het uiteindelik gesukkel om aanklank te vind by gewone kiesers wat met die stygende lewenskoste geworstel het.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie