Innibos: Musiekteater gaan bederf

Sanger Coenie de Villiers.
Sanger Coenie de Villiers. Foto: Gallo Images/Beeld/Deaan Vivier.

Innibos 2026 beloof om musiek- en musiekteaterliefhebbers te bederf met ’n program wat strek van klassieke meesterwerke en internasionale kunstenaars tot geliefde Suid-Afrikaanse stories en romantiese melodieë.

Een van die hoogtepunte is Koffie Kantata, Johann Sebastian Bach se komiese mini-opera oor die koffieverslaafde Lieschen en haar pa, Schlendrian, wat alles in sy vermoë doen om haar gewoonte te breek.

Die Amerikaanse sopraan Kirsten Blair vertolk die rol van Lieschen, terwyl die bekende Suid-Afrikaanse bariton Christiaan Snyman as Schlendrian te sien is.

Die Laeveld se eie Walter Fourie tree as verteller op, met Janette Rottcher wat die begeleiding behartig.

Die program word aangevul met gewilde musiekteaterwerke waarin koffie en die liefde vir die lewe sentraal staan.

Nog ’n groot trekpleister is Karoo-Keur, waarin die bekroon­de skrywer Deon Meyer en musieklegende Coenie de Villiers die beste stories en liedjies uit hul gewilde Karoo-produk­sies saambring. Hierdie meer intieme aanbieding neem gehore op ’n reis deur die mense, landskappe en verhale van die Karoo.

Liefhebbers van romantiese musiek kan uitsien na Songs of Love, ’n viering van liefde in al sy vorme met die tenoor Phenye Modiane, Leonie Greyling op viool en Kerryn Wisniewski op klavier.

Die konsert span verskillende genres, tydperke en kulture saam om temas van passie, verlange, vreugde en hartseer te verken.

Dit beloof ’n emosionele en meesleurende ervaring vir elke gehoorlid.

Die klassieke program word verder verryk deur Voices of the Soul, ’n konsert vir stem, tjello en klavier.

Mezzo-sopraan Aukse Trinkunas, tjellis Gerrit Koorsen en pianis Eugene Joubert bring werke van Manuel de Falla, Sergei Rachmaninoff en Astor Piazzolla na die verhoog.

Tillie Mathilda met Amanda Strydom en Je-ani Swiegelaar bring die aangrypende verhaal van twee prostitute na die verhoog – Mathilda, ’n geharde veteraan van die strate, en Tillie, ’n jong, onervare meisie van die platteland tydens haar eerste nag in die beroep.

Deur humor, satire, tragedie en rou eerlikheid word hul verhale ’n universele stem vir vroue wat uitdagings, desperaatheid en oordeel moet trotseer.

Die produksie bied ’n deernisvolle blik op lewens waarna die samelewing dikwels met voor­oordeel kyk, terwyl oorspronklike musiek en verwerkings deur Coenraad Rall die storie verweef.

Strydom en Swiegelaar, wat kykers as ma en dogter in Binnelanders leer ken het, deel vir die eerste keer saam die verhoog in hierdie besonderse produksie.

Met soveel musikale verskeidenheid is Innibos 2026 se musiekprogram ’n fees vir die ore én die hart.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie