Israel Katz, Israel se minister van verdediging, het verlede Sondag gesê Israeliese soldate in Suid-Libanon mag “sonder beperkinge” optree om “bedreigings” te elimineer.
Hy het ook aangedui dat die weermag in die sogenaamde “veiligheidsone” – ’n strook van sowat 10 km breed net duskant Libanon se suidelike grens – ontplooi sal bly.
Hezbollah het aan Reuters gesê hy sal die skietstilstand nakom indien Israel dieselfde doen.
Maar ontleders van internasionale politiek reken nóg Israel, nóg Iran is van plan om die strydbyl neer te lê.
Dr. Jan Venter, senior lektor in politieke studies en internasionale verhoudinge aan die Noordwes-universiteit sê Benjamin Netanyahu, Israelse eerste minister, sal nie vanself ophou oorlog voer nie omdat hy glo dat dit sy beeld onder sy eie mense poets en omdat hy nie vir korrupsie en oorlogmisdade vervolg wil word nie.
In 2019 is drie verskillende korrupsiesake teen Netanyahu ingestel waarvoor hy in die hof in Israel verskyn het.
Die Internasionale Strafhof (ICC) het ’n lasbrief uit vir sy inhegtenisneming en dié van Yoav Gallant, minister van verdediging, vir oorlogmisdade en misdade teen die mensdom weens die oorlog in Gasa.

Daar is ook Suid-Afrika se saak in die Internasionale Geregshof (ICJ) waarin Israel van volksmoord beskuldig word.
Onder Israeli-wetgewing hoef Netanyahu nie as eerste minister te bedank totdat ’n hof hom skuldig bevind het nie.
Venter dink daarom nie hy is haastig om enige oorlog te staak nie.
“Die feit dat hy gesien kan word as die persoon wat dele van die Wesoewer vir Israel verseker het, wat Gasa beveilig het en wat Libanon beveilig het . . . ek dink hy dink dit is genoeg om hom nie net uit die tronk uit te hou nie, maar ook te rehabiliteer in die oog van die mense.”
Dr. Saeed Khatibzadeh, adjunkminister van buitelandse sake in Iran, het Suid-Afrika vandeesweek stil-stil besoek.
Netanyahu en sy ‘groter Israel’-projek
Volgens prof. Anthoni van Nieuwkerk, kenner van internasionale politiek aan Wits-universiteit, sê ’n ander rede waarom Netanyahu nie sal besgee nie, is omdat hy en sy regsgesinde koalisievennote werklik in die “groter Israel”-projek glo.
Jurie van der Walt, vryskutjoernalis wat spesialiseer in die Midde-Ooste, skryf die term “groter Israel” het die politieke diskoers betree ná die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967, toe Israel Oos-Jerusalem, die Wesoewer, Gasa, die Sinai-skiereiland en die Golanhoogland ingeneem het.
Van Nieuwkerk het ook ’n paar afleidings van Iran se posisie gemaak uit ’n toespraak wat Khatibzadeh in Suid-Afrika gelewer het: “Iran wil die leier in Wes-Asië (Midde-Ooste) wees . . . Hulle glo dat die Amerikaanse oorlogmasjien hulle probeer elimineer het, maar misluk het.”
Dít beteken Iran, as selfverklaarde oorwinnaar, sal moeilik onderhandel oor enige van sy eise aan Amerika, reken hy.
Hy sê ook Iran onderneem “die Straat van Hormoes sal nie teruggaan na waar dit voorheen was nie – hulle sal vir ewig die straat beheer.”
Van Nieuwkerk sê: “As (Israel) nie die oorlog staak nie en aanhou veg in die suide van Libanon en probeer om Hezbollah te elimineer, dan is daar geen vredesooreenkoms nie.”
Vir beide Iran en Israel is die oorlog deels ideologies, waar die een nie saam met die ander een wil bestaan nie.
“Daar is beskawingsverskille, baie diep, struktureel, en (dit) kan nie gewysig of geïntegreer of beheer word deur net een baie roekelose Amerikaanse administrasie, en dan Netanyahu, wat ek dink volksmoordgedrewe is nie,” sê Van Nieuwkerk.
