Die Demokratiese Alliansie (DA) het Dinsdag 30 Junie hofstukke by die Konstitusionele Hof ingedien waarin Jacob Zuma se jongste poging teengestaan word om te verhoed dat hy die bykans R29 miljoen wat hy die staat vir sy persoonlike regskoste skuld, terugbetaal.
Zuma vra verlof om te appelleer nadat beide die Hooggeregshof en die Hoogste Hof van Appèl sy aansoek om verlof geweier het. Volgens die DA het sy aansoek geen redelike vooruitsig op sukses nie en werp dit geen werklike grondwetlike kwessie op nie.
Hierdie saak is reeds beslis.
In 2018 het ’n eenparige Volbank van die Hooggeregshof beslis dat Zuma aanspreeklik is om die bedrae terug te betaal wat die staat namens hom vir sy persoonlike regskoste in sy strafregtelike vervolging en verwante litigasie betaal het. Dié uitspraak is in 2021 deur die Hoogste Hof van Appèl bekragtig.
Zuma probeer nou ’n kwessie heropen wat die howe reeds afgehandel het. Volgens die DA is hy nie daarop geregtig nie.
Die enigste uitstaande kwessie was dat die Staatsprokureur die bedrag wat verskuldig is, moes bereken en daarna verhaal. Ná ’n aansienlike vertraging het die Staatsprokureur ’n uiteensetting van die betaalde bedrae opgestel, wat R28 960 774,34 beloop. Die Hooggeregshof het daarna gelas dat Zuma dié bedrag, tesame met rente, moet terugbetaal.
Volgens die DA gaan hierdie saak oor ’n eenvoudige beginsel: openbare geld moet vir die publiek aangewend word, nie om die persoonlike regsgevegte van magtige politici te finansier nie.
Niemand, ook nie ’n voormalige president nie, is verhewe bo die reg nie. Zuma het volgens die DA ’n onregmatige voordeel van die staat ontvang en moet dit terugbetaal.
Die DA sê Suid-Afrikaners moes vir jare toekyk hoe Zuma litigasie gebruik om aanspreeklikheid uit te stel. Die party sal nie toelaat dat die saak onnodig uitgerek word terwyl belastingbetalers die rekening dra nie.
Die DA het die Konstitusionele Hof versoek om Zuma se aansoek om verlof tot appèl, met koste, van die hand te wys.
