’n 39-jarige Malawiese burger is in aanhouding geplaas nadat hy in die hof verskyn het op aanklagte van besit van plofstof wat by die Beitbrug-grenspos ontdek is.
Gondwe Samson Tonne het op 29 Junie in die landdroshof in Musina verskyn, n dag nadat hy in hegtenis geneem is toe hy vanaf Malawi Suid-Afrika binnegekom het.
Lede van die Grensbestuursowerheid (GBO) het die bus wat Tonne op 28 Junie bestuur het, gestop en deursoek. Tydens die inspeksie het beamptes twee sakke rys ondersoek en na bewering vier rolle detoneringskoord-plofstof daarin versteek gevind.
Die plofstof het ’n beraamde waarde van R100 000.
Die saak is tot 8 Julie uitgestel en hy bly in aanhouding.
Mashudu Malabi, streekswoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Limpopo, het gesê die gesag prys die GBO vir sy waaksaamheid by die land se grensposte.
“Die suksesvolle opsporing van die plofstof beklemtoon die belangrikheid van gekoördineerde wetstoepassingspogings om die onwettige beweging van gevaarlike goedere oor Suid-Afrika se grense te voorkom,” het Malabi gesê.
Die NVG het gesê dit bly daartoe verbind om misdrywe wat verband hou met die onwettige besit, vervoer en verspreiding van plofstof te vervolg.
Detoneringskoord is ’n hoëspoed-ploftoestel wat algemeen in kommersiële skietwerk en mynbedrywighede gebruik word. Die ongemagtigde besit van sulke materiaal hou beduidende veiligheids- en sekuriteitsrisiko’s in.
