Vier mense is dood en agt ander beseer in ’n gru-negevoertuigbotsing op die R555 naby Middelburg Maandagmiddag.
Die Mpumalanga se departement van gemeenskapsveiligheid en veiligheidskakeling het gesê ’n vragmotor met ’n sleepwa wat van Middelburg na Emalahleni onderweg was, het vermoedelik beheer verloor op ’n afdraande onder ’n spoorwegbrug.
Vroeë verslae dui daarop dat die vragmotor, wat ’n massiewe staalrol vervoer het, se remme moontlik ingegee het. Die swaar staalrol het vorentoe gerol en teen aankomende verkeer gebots.
“Daar word beweer dat die vragmotor met een van die voertuie gebots het. Verskeie ander voertuie het daarna in mekaar vasgery en verder teen staal gebots wat van die vragmotor afgeval het,” het die departement gesê.
Ten minste een voertuig is byna heeltemal deur die staalrol vergruis, wat in die pad bly lê het terwyl nooddienste gewerk het om vasgekeerdes te bevry.
Vyf mense het ernstige beserings opgedoen, terwyl drie lig beseer is. Die beseerdes ontvang mediese behandeling in hospitale in Middelburg en Emalahleni.
Altesaam nege voertuie was by die ongeluk betrokke: Die vragmotor met sleepwa, vier ligte afleweringsvoertuie, een SUV en drie ander motorvoertuie.
Nooddienste van Middelburg en Emalahleni het op die toneel gereageer, met brandweerpersoneel wat gespesialiseerde toerusting gebruik het om oorlewendes uit die verfrommelde wrakke te bevry.
Motoriste wat onder die brug vasgekeer was, het geen uitweg gehad toe die botsing plaasgevind het nie.
Die R555 was Maandagaand steeds heeltemal gesluit terwyl nooddienste die beseerdes behandel en die toneel opgeruim het.
’n Ondersoek na die oorsaak van die ongeluk is aan die gang.
