Die voormalige tweemalige wêreldkampioen Conor McGregor het Saterdag ná slegs 69 sekondes teen Max Holloway verloor weens ‘n regterkniebesering in sy terugkeer na die Ultimate Fighting Championship (UFC) ná ‘n afwesigheid van vyf jaar.
Skeidsregter Mike Beltran het die weltergewig-geveg by UFC 329 in Las Vegas gestaak nadat die 37-jarige Ier binne die eerste minuut drie keer teen die mat neergegaan het.
McGregor het die geveg met ‘n springende sirkelskop op Holloway geopen, maar sy regterknie beseer toe hy sy voet neersit.
Hy het daarna nog twee keer inmekaar gesak en na sy regterknie gegryp, waarna Beltran die geveg beëindig het.
“Wat kan ek sê? Ek dink ek het sy knieë lam gemaak,” het Holloway gesê.
“Daar was soveel afwagting. Ons sal hierdie geveg weer moet laat plaasvind. Dis jammer dat dit só geëindig het.”
Holloway het gesê hy hoop die Ier se besering is “nie te ernstig nie”.
McGregor, wat sonder kommentaar die agthoek verlaat het, het later op X geskryf: “My knie is verwoes. Heeltemal vernietig. Ek het geen beserings gehad voordat die geveg begin het nie. Ek het deur die hele oefenkamp, asook agter die verhoog voor die geveg, skoppe uitgevoer, my voet geplant en gespring.”
“Dit het uit die bloute gebeur,” het hy bygevoeg. “Ek is in ‘n baie donker plek. Ek kan dit net as ‘n hel beskryf.”
Holloway het gesê hy kon dadelik sien iets is fout.
“Ek kon sien. Sy hele houding het verander. Hy het gesê: ‘Veg! Veg!’” het Holloway gesê.
Die geveg, wat McGregor as “die grootste terugkeer in die sportgeskiedenis” beskryf het, was ‘n herontmoeting ná hul veergewig-geveg in 2013, wat die Ier met ‘n eenparige beslissing gewen het.
McGregor het nie weer geveg sedert hy in 2021 sy linkerbeen gebreek het in ‘n nederlaag teen die Amerikaner Dustin Poirier nie.
Voor dié besering was McGregor die UFC se grootste trekpleister. In 2016 het hy die eerste vegter geword om terselfdertyd twee UFC-titels in verskillende gewigsklasse te hou.
Hy het na bewering meer as 100 miljoen Amerikaanse dollar verdien ondanks sy nederlaag teen Floyd Mayweather in hul boks-supergeveg in 2017.
McGregor se laaste UFC-oorwinning was in Januarie 2020 toe hy die Amerikaner Donald Cerrone binne 40 sekondes geklop het.
Die kortste geveg op rekord
Ahoewel McGregor die knie letterlik en figuurlik gesproke binne 69 sekondes moes buig, is dit nie ‘n rekordtyd nie. Die twyfelagtige eer kom Ben Askren toe wat op 6 Julie 2019 die harpuis moes ruik na slegs 5 sekondes in die hok. Jorge Masvidal het hom met ‘n vlieënde knieg in die eerste ronde getref. Tot dusver hou Askren die rekord vir die kortste geveg asook die vinnigste tegniese uitklophou.
Die vinnigste handdoek ingooi
Ronda Rousey het Cat Zingano in slegs 14 sekondes tot oorgawe gedwing tydens hul kragmeting in Februarie 2015.
Die vinnigste titelgeveg
Dit is een rekord wat McGregor agter sy naam kan skryf. In Desember 2015 het hy Jose Aldo binne 13 sekondes ‘n uitklophou toegedien.
Bron: Record Book | UFC
