Baanbreker Aimee Barrett-Theron roep halt op skeidsregterloopbaan weens kankerskok

SA rugbyskeidsregter Aimee Barrett-Theron.
SA rugbyskeidsregter Aimee Barrett-Theron. Foto: Steve Haag Sports/Gallo Images.

Die gesoute toetsskeidsregter Aimee Barrett-Theron het met onmiddellike effek uit rugby getree om op behandeling vir ’n gesondheidsprobleem te fokus.

Die 39-jarige Barrett-Theron van Kaapstad het laas in Junie die fluitjie geblaas toe sy die wedstryd tussen Suid-Afrika A en Zimbabwe by die Nelson Mandelabaai-stadion behartig het, maar het SA Rugby en Wêreldrugby ingelig dat sy vir die nabye toekoms nie weer beskikbaar sal wees nie.

Die voormalige Springbok XV’s- en Sewesspeler het die eerste vrou geword om ’n manswedstryd in Suid-Afrika te blaas en is tans die vrou met die meeste toetswedstryde as skeidsregter, met 52 toetse agter haar naam.

Barrett-Theron het gesê: “Ek wil graag persoonlike informasie deel. Ek is onlangs met borskanker gediagnoseer. Die goeie nuus is dat dit behandel kan word en ek werk saam met ’n ongelooflike span spesialiste wat almal dieselfde doel het om my gesond te kry en my oor ’n paar maande terug op die veld te hê.

“Vir nou tree ek terug van skeidsregterwerk af terwyl ek op behandeling en herstel fokus.

“Ek benader dit op dieselfde manier as enige hoëprestasie-omgewing: Met die regte span om my, ’n duidelike plan, eerlike gesprekke en volle toewyding aan die proses.

“Skeidsregterwerk het my baie geleer oor veerkragtigheid, dissipline, druk en om in jouself te glo wanneer dinge moeilik raak. Om Suid-Afrikaans te wees, help waarskynlik ook! Ek was vasbeslote om as skeidsregter deur die vlakke te vorder, en nou is ek selfs meer vasbeslote om hierdeur te kom en sterker na die veld terug te keer.

“Baie dankie vir die ondersteuning, liefde en begrip. Ek sal nuwe inligting deel wanneer ek kan, maar vir nou is my fokus op behandeling, herstel en om terug te keer na dit waarvoor ek lief is.

“Ek het dit deur ’n selfondersoek ontdek, so laat dit ’n herinnering wees: Ondersoek jouself, luister na jou liggaam en moenie uitstel om enigiets ongewoons te laat ondersoek nie.”

Mark Alexander, president van die Saru, het gesê: “Aimee was nog altyd ’n vasberade en doelgerigte baanbreker op die veld, en ons weet sy sal haar behandeling met dieselfde vasberadenheid en fokus aanpak.

“Sy moes baie struikelblokke oorkom om die vlak van skeidsregter te bereik waarop sy vandag is, en ons weet sy sal hierdie volgende uitdaging met dieselfde ingesteldheid aanpak. Ons wens haar alle sterkte toe met haar herstel en sien daarna uit om haar weer in die toekoms op die veld te verwelkom.”


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie