Dit was ’n besonderse emosionele oomblik toe die plaaslike gemeenskap op Donderdag, 16 Julie, in die Stellenbosch-stadsaal byeengekom het om hul eie Bafana Bafana-ster, Jayden Adams (25), te vereer.
Die speler, wat in Idasvallei en Cloetesville grootgeword het, is Saterdag, 11 Julie, oorlede. Ondersoek na sy dood duur steeds voort.
Hoewel daar nog geen amptelike bevestiging oor die oorsaak van sy dood is nie, het verskeie sprekers tydens die openbare gedenkdiens die belangrikheid van geestesgesondheid onder jongmense en sportlui beklemtoon. George Rhoda, president van die Safa in die Kaapse Wynland, het gesê Adams se dood dien as ’n waarskuwing aan ouers en afrigters om nie altyd dinge te aanvaar vir hoe dit lyk nie.
“Dit is ongelooflik wat ’n glimlag kan wegsteek. Jayden was die bewys daarvan,” het hy gesê.

Adams was deel van die Suid-Afrikaanse span wat aan vanjaar se Wêreldbeker-sokkertoernooi deelgeneem het. Die nasionale span het onlangs uit Noord-Amerika teruggekeer nadat hulle deur Kanada uitgeskakel is. Die plaaslike sokkerster het verlede Januarie by Mamelodi Sundowns aangesluit ná ses seisoene by Stellenbosch FC.
Ten spyte van sy sukses op die veld, het familie, vriende en die gemeenskap hom veral onthou vir wat hy vir Stellenbosch beteken het. Volgens die burgemeester van Stellenbosch, Jeremy Fasser, lê Adams se grootste nalatenskap nie net in sy indrukwekkende loopbaan nie, maar ook in die talle jongmense wat danksy sy voorbeeld nou glo hulle kan hul drome verwesenlik.
“As daar ooit twyfel was oor die invloed wat Jayden op sy gemeenskap gehad het, kyk net om jou. Dat die stadsaal so vol is, wys hoeveel lewens hy aangeraak het. Vir die jongmense van Stellenbosch was hy die bewys dat waar jy vandaan kom, nie bepaal waarheen jy kan gaan nie,” het Fasser gesê.
“Sy naam sal altyd deel wees van Stellenbosch se geskiedenis, en sy voorbeeld sal toekomstige sokkerspelers inspireer om groter te droom, harder te werk, nederig te bly en nooit op te hou glo in hulself nie.”

Fasser het bygevoeg dat Adams nie net vir sy talent nie, maar ook vir sy nederigheid onthou sal word.
Verskeie huldeblyke is tydens die gedenkdiens gelewer, onder andere deur Adams se graad 2-onderwyser. Baie het die gemeenskap aangemoedig om ook die talle ander talentvolle jongmense in en om Stellenbosch te ondersteun.
Ondersteuners van so ver as Bloemfontein het die gedenkdiens bygewoon, terwyl ’n groot afvaardiging van Stellenbosch FC ook teenwoordig was.

Pastoor Jonathan Rubain het die diens gelei. Die predikant, musikant en aanbieder van die televisieprogram Koortjies het Adams se familie bemoedig en gesê hul geloof en die ondersteuning van die gemeenskap sal hulle deur hierdie moeilike tyd dra.
Hy het ook ’n duidelike boodskap aan die publiek en sokkerondersteuners gerig: “Moet nooit vergeet dat hierdie spelers ook net mense is nie. Hulle het ook bekommernisse en probleme, en hulle doen net hul bes.”
