Die konstitusionele hof het vroeër die maand beslis die verkoop van die Tafelberg-skoolterrein in Seepunt in 2015 is onwettig. Dit is vir R135 miljoen aan ’n skool verkoop.
Dis juis weens die Wes-Kaapse regering en Helen Zille wat weier om bekostigbare, geïntegreerde behuising in die stad te vestig, wat Brett Herron, sekretaris van Good, asook Patricia de Lille in 2018 genoop het om die DA te verlaat, sê Herron.
Herron beweer die grond is verkoop om doelbewus die integrasie van behuising in die Wes-Kaap te keer.
Die hof het die Wes-Kaapse regering drie maande kans gegee om ’n verslag saam te stel wat uiteensit wat hul planne vir bekostigbare behuising in die stad is.
Herron, destyds ’n burgemeesterslid vir vervoer en stedelike ontwikkeling in die Kaapstad-metro, beweer dat hy al in 2017 erwe in Kaapstad, Soutrivier en Woodstock vir bekostigbare behuising uitgewys het. Daarvan het dadels gekom, sê hy. Hul 2017-bouprojekte is gekanselleer, weer aangekondig en selfs bekendgestel. Daar was ook baie fotogeleenthede, maar boublokke op die grond was daar glad nie, sê hy.
“Waar mense bly maak saak! Die feit is dat daar nog geen bekostigbare huise in die stad vanaf 2017 gelewer is nie.”
Herron sê die Kaapse-metro se reaksie nadat hulle deur die konstitusionele hof oor die vingers getik is, het hom verbaas.
“Hulle wil nou voorgee of hulle onmiskenbare vordering gemaak het. Dis ’n klap in die hof se gesig, en hulle spoeg in die gesig van alle Kapenaars wat omgee oor gelykheid, geregtigheid en ’n volhoubare toekoms,” het hy uitgevaar.
Tertius Simmers, Wes-Kaapse LUR vir infrastruktuur, het aan Die Papier gesê hy het al in Mei Herron se vraag in die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer beantwoord toe hy wou weet hoeveel grond daar in Kaapstad beskikbaar is vir behuising en in watter stadium die ontwikkeling is.
Simmers sê daar is vyf erwe waaraan hulle tans werk en dit sluit die Tafelberg-erf in. “Baie van wat die hof verlang is ek reeds mee besig. Dit gaan die basis van die verslag wees. Ons gaan die verslag by die hooggeregshof indien. Wat die konstitusionele hof dalk versuim het, is die volhoubare finansiering van bekostigbare behuising.
“Nie net vir Seepunt nie, maar vir die res van die land. Ons het reeds baie werk op die grond gedoen.”

Die organisasies Reclaim the City, wat deur huishulpe gestig is, en Ndifuna Ukwazi het die Wes-Kaapse regering in 2017 hof toe gesleep. In 1990 is daardie grond uiteengesit vir behuising en huishulpe wat in Seepunt gewerk het, was bewus daarvan. Hulle het jare lank daarvoor baklei, bevestig Zachariah Mashele, mediabeampte vir Ndifuna Ukwazi.
Mashele het aan Die Papier vertel hoe beide organisasies destyds so ver gegaan het om een oggend vroeg voor Zille se amptelike woning in Leeuwenhof, Kaapstad, te gaan betoog. Hulle het selfs ook al ongenooid by ’n amptelike geselligheid opgedaag om haar te probeer oorreed om nie die grond te verkoop nie.
“Sy het na ons bekommernisse geluister, maar niks het verander nie. Aangesien sy nie vir ons wou luister nie en gesê het sy gaan voort met die verkoop van die grond, het ons besluit ons gaan ook hof toe.”
Zille het aan Die Papier gesê sy steeds staan by wat sy in ’n brief in 2017 aan ’n inwoner gesê het oor die behuisingskwessie in Kaapstad.
’n Uittreksel uit die brief lui: “Soos jy bewus is, wil meer en meer mense in Kaapstad woon. Hulle kom hierheen van alle dele van die land en buitekant. Baie kan bekostig om huise te koop en hul belastingseiendom aan die Kaapstad-metro betaal. Baie ander is behoeftig en is afhanklik van die plaaslike en provinsiale regering om dienste te verskaf – van water, elektrisiteit tot gesondheid en onderwys.”
- Dokumentêr word Dinsdag 28 Julie in die Labia-teater in Kaapstad uitgesaai asook by The Bioscope Independent Cinema in Johannesburg.
