Vrystaatse halfsussies ontmoet mekaar eerste keer in 52 jaar

Halfsussies ontmoet die eerste keer in 52 jaar. Foto: Lientjie Mentz.
Halfsussies ontmoet die eerste keer in 52 jaar. Foto: Lientjie Mentz.

Dit is die mooiste dag van haar lewe.

Só het ’n Bloemfonteinse vrou Monya Henning (52) die dag beskryf waarop sy haar halfsuster Dailine Arlow Roux (52) Maandag, 20 Julie, die eerste keer ontmoet het.

Die twee het dieselfde pa, Rudolph Daniel Arlow, en hulle is albei in 1974 in die Addington-hospitaal in Durban gebore.

“Tot onlangs het ons nie eers van mekaar geweet nie,” vertel Monya.

Die twee het Maandag mekaar die eerste keer in lewende lywe ontmoet toe Dailine saam met haar man, Louis, met die departement van gesondheid se bussie van Frankfort af gekom het vir ’n skandering in die Pelonomi-streekshospitaal.

Dailene Arlow Roux (links) en Monya Henning by die Pelonomi-hospitaal waar hulle Maandag, 20 Julie, die eerste keer ontmoet het.
Dailene Arlow Roux (links) en Monya Henning by die Pelonomi-hospitaal waar hulle Maandag, 20 Julie, die eerste keer ontmoet het. Foto: Lientjie Mentz.

“Ek het so drie jaar gelede die eerste keer van Monya by ’n familielid gehoor,” vertel Dailine. “Ek was nuuskierig en het haar op Facebook gaan soek en vir haar man ’n boodskap gestuur.” Sedertdien het daar ’n hegte band tussen die twee vroue ontwikkel en dit was vir albei ’n hoogtepunt om uiteindelik bymekaar uit te kom.

“Ek wou graag by Dailine se troue nege maande gelede gewees het en daar was ander geleenthede ook, maar dit het nooit uitgewerk nie,” vertel Monya. Sy sê sy het in trane uitgebars toe sy in Pelonomi uit die huisbak klim en haar sussie daar in die wagkamer ontmoet.

Dailine se ma was in 1974 met Rudolph getroud toe sy op 11 Januarie gebore is. Ses maande later het Monya se biologiese ma op 2 Julie aan haar geboorte geskenk in dieselfde hospitaal. Monya is agt dae later deur haar ouers, wat in Oos-Londen gewoon het, aangeneem.

Die twee halfsussies met foto’s van hul biologiese pa. Links is Dailene Arlow Roux (links) en Monya Henning. Foto: Lientjie Mentz
Die twee halfsussies met foto’s van hul biologiese pa. Links is Dailene Arlow Roux (links) en Monya Henning. Foto: Lientjie Mentz.

Toe sy twee was, het Monya saam met haar ouers na Bloemfontein verhuis waar sy sedertdien woon.

Dailine het haar biologiese pa geken wat in 2005 oorlede is. “Hy was maar vol draadwerk, maar toe ek ouer geword het, het ek geleer om hom te waardeer,” sê sy terwyl sy vir Monya ’n foto van hul pa wys.

Die twee halfsussies sê hulle hou geen wrokke nie. “My ouers is wonderlik,” vertel Monya.

“Ons kuier weer in November,” beloof Monya toe sy vir Dailine ná die kort kuiertjie by die hospitaal groet. En hulle gee mekaar ’n stywe drukkie.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie