Amerikaners betaal nou 12,5%-tariewe op Suid-Afrikaanse invoere, nie meer 10% nie.
Die bykomende 2,5% kom nadat die Amerikaanse handelsverteenwoordiger Donderdag besluit het om ’n bykomende tarief kragtens art. 301 van die Amerikaanse handelswet in te stel.
Dit volg op ’n ondersoek na 60 ekonomieë, wat Suid-Afrika insluit, oor die vraag of hulle self die invoer van goedere wat deur dwangarbeid vervaardig is, verbied, en dié verbod doeltreffend afdwing.
Vir Amerika maak dit saak, want hy reken as hierdie wette nié deur sy handelsvennote afgedwing word nie, word Amerikaanse ondernemings benadeel. Dis hoofsaaklik omdat hierdie goedere waarskynlik goedkoper sal wees en dit vir Amerika moeilik maak om effektief mee te ding.
Belanghebbendes uit Suid-Afrika se privaat sektor, georganiseerde landbou en ’n tegniese span van die departement van handel, nywerheid en mededinging het twee weke gelede voor die handelsverteenwoordiger verskyn om vertoë te rig.
Suid-Afrika het in mondelinge getuienis beklemtoon dat die land oor wetgewing beskik wat dwangarbeid verbied en dat daar wetgewing is wat dit kan aanspreek, sou dit nodig wees. Maar die pleidooie het op dowe ore geval.
Jamieson Greer, die handelsverteenwoordiger, het in ’n verklaring gesê Amerika is die “enigste land ter wêreld” wat die invoer van goedere wat deur dwangarbeid vervaardig is, verbied.
“Pres. (Donald) Trump vra al die handelsvennote om Amerika te ondersteun om dwangarbeid uit wêreldvoorsieningskettings te verwyder,” lui die verklaring.
Die jongste verwikkelinge kom tydens ’n voortgaande hofproses rakende die “wederkerige” tariewe wat Trump in 2025 op lande regoor die wêreld ingestel het.
Trump het ’n astronomiese 30% op Suid-Afrika ingestel.
In Februarie vanjaar het die Amerikaanse federale hooggeregshof hierdie tariewe egter ongeldig verklaar, en Trump het ’n tydelike 10% ingestel, hangende die uiteinde van sy appèlproses.

Roelf Meyer, die nuwe Suid-Afrikaanse ambassadeur in Washington, het vandeesweek aan Die Papier gesê hy prioritiseer ook onderhandelinge rakende die Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa), waaruit Suid-Afrika voordeel trek.
Agoa is net tot 31 Desember vanjaar verleng en Suid-Afrika hoop dat dit verder verleng kan word en dat dié land sal deel bly van die groep lande wat danksy Agoa voorkeurtariewe geniet.
“Daai proses moet uit die aard van die saak gestalte kry. Die vraag is: Gaan die kongres wel nog kan besluite neem daaroor voordat hy in reses gaan vir die verkiesing?” het Meyer gesê, en verwys na Amerika se middeltermynverkiesings wat in November vanjaar plaasvind.
- Lees Jana Marx, politieke redakteur, se volledige onderhoud met Roelf Meyer in Die Papier, wat nou op die rakke is.
- Huisaflewering is ook beskikbaar deur Op the Dot te e-pos by diepapierintekening@onthedot.co.za of te bel by 087 353 2191.
- ’n Elektroniese koerant kan ook gekoop word by op diepapier.co.za of by Magzter.
