’n 43-jarige polisiesersant, William Mahlangu, van Sasolburg in die Vrystaat, is in aanhouding nadat borgtog in ’n korrupsie- en afpersingsaak geweier is. Hy het weer in die Sasolburg-landdroshof verskyn op aanklagte van afpersing en korrupsie nadat hy na bewering R12 000 van ’n burger afgepers het.
Brigadier Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, het die verwikkeling bevestig en gesê die saak is tot 31 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek. “Die inhegtenisneming het op 10 Julie plaasgevind nadat hy na bewering geldelike voordeel van ’n 41-jarige klaer geëis het in ruil daarvoor om ’n aanrandingsaak te laat vaar,” het Mbambo gesê.
Die Vrystaatse Polisie se Teenkorrupsie-eenheid het die beampte tydens ’n geheime lokvaloperasie vasgetrek. Volgens Mbambo was die klaer ’n man wat deur Mahlangu ondersoek is vir beweerde aanranding.
In plaas daarvan om die saak wettig te hanteer, het Mahlangu glo aan die klaer gesê “daar is geen saak nie” en voorgestel dat hulle “iets kan uitwerk” om sy inhegtenisneming te voorkom.
Mbambo sê die klaer is daarna gedwing om R2 000 per elektroniese fondsoorplasing oor te betaal om arrestasie te vermy. Daarna het die beampte glo die afpersing uitgebrei en beweer die aanklaer eis nog R10 000 om die aanklagte terug te trek.
Die klaer het aangedui dat hy nie die geld het nie en belowe om ’n reëling te tref. Hy het egter die saak aangemeld, waarna ’n formele lokvaloperasie geloods is.
Mbambo sê Mahlangu is in hegtenis geneem toe hy die gemerkte lokvalgeld ontvang het, wat later in sy besit gevind is.
