Pollard voor De Allende se 100ste Bok-toets: ‘Jy is een van die beste spelers saam met wie ek al ooit gespeel het’

Bokke Handré Pollard en Damian de Allende lak ’n Kiwi tydens die Rugbywêreldbeker-eindstryd in 2023.
Bokke Handré Pollard en Damian de Allende lak ’n Kiwi tydens die Rugbywêreldbeker-eindstryd in 2023. Foto: Miguel Medina / AFP.

Ja, hulle sal dalk nie vandag saam by Ellispark uitdraf vir die Springbokke se eerste toets teen die All Blacks in die Greatest Rivalry-reeks nie. Maar dit maak dié dag enigsins minder spesiaal vir die losskakel Handré Pollard nie.

Inteendeel, dit juis die herinneringe wat hy saam met Bok-senter Damian de Allende koester en die “baie meer” herinneringe wat in die toekoms voorlê, wat vir Pollard vandag spesiaal is.

De Allende sal vandag vir sy 100ste toets vir die Springbokke uitdraf in die eerste – en moontlik belangrikste – Bok-toets teen die Kiwi’s van die nuwe Greatest Rivalry-reeks.

“Dit was ’n voorreg om jou langs my te hê sedert die begin van my internasionale loopbaan. Jy was een van die eerste vriende wat ek in hierdie groep gemaak het, en jy is die naaste wat ek al ooit aan ’n broer gehad het,” skryf Pollard oor De Allende op sosiale media.

Pollard en De Allende het beide in 2014 vir die Bokke begin speel.
Pollard en De Allende het beide in 2014 vir die Bokke begin speel. Foto: Phill Magakoe / AFP.

Pollard het vir die eerste keer op 28 Junie 2014 teen Skotland vir die Bokke uitgedraf en het tans al 87 wedstryde vir dié span gespeel.

Sowat ’n maand en ’n half later was dit De Allende se beurt om die groen-en-goud oor sy kop te trek. Hy het op 16 Augustus daardie jaar teen Argentinië sy debuut gemaak.

In dié wedstryd het die Bokke die Pumas rakelings met 13-6 geklop, waarvan Pollard vyf punte met sy skopskoen aangeteken het.

“Van kamermaats wees vir meer as ’n dekade tot die ontelbare herinneringe op en van die veld af wat ons deel, was dit een ongelooflike reis. Jy is een van die lojaalste mense wat ek ken, nie net teenoor hierdie span nie, maar ook teenoor jou familie en vriende,” skryf Pollard.

“Jy is sonder twyfel een van die beste spelers saam met wie ek al ooit gespeel het, en een van die mans vir wie ek die meeste respek het.

“Dankie vir elke herinnering. Ek kan nie wag om nog baie meer saam te skep nie.”

  • Die Springbokke pak die All Blacks om 17:10 Saterdagmiddag op Ellispark.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos